top of page

Jesus het ons reg ingeëent

Stephan Joubert

In sy nuwe Goeie Nuus skryf Stephan Joubert hoe Jesus ons reg ingeëent het.
Jesus het ons reg ingeëent

Onreinheid het reinheid elke keer uitgestof in die wêreld waarbinne Jesus opgetree het. Onreinheid was uiterlik. Liggaamlike siektes soos melaatsheid, menstruele siektes en ander infeksies het mense outomaties gediskwalifiseer vir deelname aan formele godsdiens. Al was hulle harte so rein soos sneeu, het dit net mooi niks gehelp nie. Enige kontak met heidene en sondaars en enige eet van kos, wat nie aan godsdienstige standaarde voldoen het nie, het mense ook gediskwalifiseer vir godsdienstige deelname. Mense was dus hoogs aansteeklik. Hulle het die “onrein virus” gedra. Dit was erger as enige ander virus wat ons ken. Tog was Jesus geïmmuniseer hierteen. Hy het graag met sulke onrein mense geassosieer. In Lukas 5 lees ons hoedat Hy in die huis van ’n onrein tollenaar, soos Levi, eet. In Lukas 7 beleef ons hoedat ’n onrein prostituut Jesus se voete soen. Jesus was gemaklik in die teenwoordigheid van sulke “onreines.” Hy skryf nie mense af nie. Hy beoordeel niemand op uiterlike dinge nie. Genadiglik het Hy vir ons elkeen, wat in Hom glo, ook ingeënt teen onreinheid. Hy het sy hart, sy lewe en sy krag vir ons gegee. Daarom kan ons ook omgee vir sondaars en stukkendes. Daarom kan ons leef soos wat ons Heer vir ons die voorbeeld gestel het.

Comments


bottom of page