• ekerk

Is óns betroubaar?

deur Roedolf Botha


Ons weet die Here is betroubaar.


Maar is óns betroubaar?


Ek weet heelwat van ons is.


So baie gelowiges en gemeentes doen soveel betekenisvolle goed in hierdie weird Corona-tyd waarin ons onsself bevind. So baie mense se hande, harte en beursies is oop, somtyds ten koste van hulleself. So baie gemeentes doen van hulle beste werk in hierdie tyd. So baie is betrokke by goeie en sinvolle noodverligtingsprojekte. Wat ‘n inspirasie is dit nie!


Die jammerte is dat dit nie met almal so is nie. In die middestad van Pretoria was daar byvoorbeeld ongeveer ‘n duidend hawelose mense wat dringend geïsoleer moes word. Die enigste opsie wat die Tshwane City en die welsynsorganisasies gehad het was om gemeentes, skole en besighede te vra of hulle spasies gebruik kan word om plus minus twintig haweloses op een plek te huisves tot die lockdown verby is.


Gemeentes is gekontak. Die positiewe reaksie was ongelukkig bitter min. Die een organiseerder het my meegedeel slegs ‘n paar van die armer gemeentes in minder gegoede areas het hulle deur oopgemaak het. Ek self het ‘n paar gemeentes gekontak om te hoor of hulle nie ook hulle spasies wil oopmaak nie. Ontstellend min gemeentes het hulle weg oopgesien. Sommige het seker beter verskonings gehad as ander. Maar wat my pla is die verskonings wat sommige kerkrade en leierskapspanne gebruik het:


  • Hoe weet ons die haweloses gaan nie ons geboue beskadig of ons goed steel nie?

  • Wat gaan ons met die haweloses maak nadat die lockdown verby is?

  • Ons gaan ongewild raak by die gemeenskap rondom ons indien ons ewe skielik ‘n klomp vreemde mense inbring. Die waarde van ons eiendomme gaan val.


Hierdie is nie onbelangrike- of irrelevante vrae nie. Die waarde van krisistye is egter dat dit mense en instansies se ware karakter en diepste oortuigings openbaar. Praat is maklik. Praat is afdraand, doen is opdraand, sê my wyse kollega altyd. Vir doen het sommige gemeentes egter nie genoeg geloofsoortuiging nie. Nee, ons doen en help net vir die Here indien dit veilig is, indien dit geen risiko vir ons inhou nie, indien dit ver genoeg van ons eie basvelle af is. Solank ons net nie ons hande hoef vuil te maak nie. Solank dit nie te veel moeite is nie. Solank ons net die te hard moet dink aan bogenoemde drie vrae nie. Anders is dit onverantwoordelik. So word dit gestel.


Ja, die risiko is wel daar dat ons geboue beskadig kan word. Maar het ons vergeet dat ons geboue nie die kerk is nie, dat dit in diens staan van die ware kerk en Jesus se missie aan die wêreld? Het ons vergeet dat ons intelligente mense is en dat ons kan planne maak om moontlike skade te kan minimaliseer?


Ja, dis onseker oor wat gaan gebeur wanneer die lockdown verby is. Maar die saak van die haweloses was (is) dringend! Het ons geen sin meer van die dringendheid van nood en die risiko wat geloof behels nie? Ons kan mos planne maak, kontrakte opstel, sekuriteit organiseer, reëlings tref.


Ja, die wyer gemeenskap kan ‘n probleem hê met vreemdelinge, veral in ge-boom-de areas. Daarom moet ons ‘n goeie verhouding hê met die mense in ons omgewing en hulle betrek by die denkprosesse. Mens kan byvoorbeeld die hawelose mense gereeld medies laat toets, sekere streng maatreëls instel. Daar is baie planne om te maak. Om te help beteken nie dat ons nie slim moet werk en strategies dink nie. Maar ons behoort slegs strategies te dink aan hoe ons gaan help, nie of ons gaan help nie!


Wat is immers belangriker in terme van die kerk se kernbesigheid as om na haweloses om te sien in tye van krisis?! Ek kan kwalik aan iets anders dink. Dat die kerk in diens van ‘n missie staan beteken mos juis dat ons nie ons eie gemak en selfs veiligheid stel voor dié van ander nie. Ons preek dit al jare vir mekaar in die mooi prag van ons luukse kerkgeboue. Maar waarom doen ons nie wat ons al jare lank sê ons doen nie? Of is ons missie slegs vir wanneer dit gemaklik of veilig is? Is ons eie missionale werk nou ook opgeskort totdat die grendeltyd verby is?!


Ek wonder eerlik of Jesus nie soms oor ‘n deel van die kerk voel soos Hy gevoel het oor ‘n groep gelowiges waarvan Johannes ons vertel nie (2:23-24):


Terwyl Jesus vir die viering van die Paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is.


Jesus kon nie staatmaak op sekere gelowiges nie. Hy kon hulle nie vertrou nie.


Ons sê dat ons op God moet vertrou in hierdie Corona tyd.


Ek wonder egter of Hy óns kan vertrou.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: