top of page

Geen beter wêreld anderkant COVID-19, tensy…

Stephan Joubert

Stephan Joubert vrae in sy nuutste Goeie Nuus of die wêreld beter gaan wees na COVID-19 of nie? En wat ons as Jesus-volgelinge kan doen om dit 'n beter plek te maak.
Geen beter wêreld anderkant COVID-19, tensy…

Party buig. Ander dink dit is uitverkopery. Almal baklei met almal oor wie se lewens maak die meeste saak. O ja, en dan is daar ook nog die immer gewilde “vir of teen die president” gesprekke. Om nie van die Amerikaanse president te praat nie. Die temperatuur styg. Amper niemand hoor mekaar nie. So voel dit as jy na publieke media en sosiale media kyk. Nog erger: presies dieselfde tipe debatte herhaal net so tussen baie Christene. Oor en weer maak godsdienstiges mekaar af as verraaiers, verloëners van die waarheid, rassiste…Dan wonder ek hier in my klein digitale hoekie: Hoekom het ons as navolgers van Jesus nie ’n outentieke gesprek aan die gang wat gekenmerk word deur warmte, verdraagsaamheid en die regte soort eerlikheid nie? Hoekom reageer ons gedurig net op ander gesprekke? Hoekom “vergeestelik” ons net hulle spreuke met ’n paar Bybelverse?


Een van die sterkpunte van die Nuwe-Testamentiese kerk was dat hulle nie maar net klakkeloos agter almal aangepraat het nie. Hulle het nie bestaande gesprekke in die samelewing verder gevoer bloot net met ’n vroom Christelike sousie daaroor nie. Hulle nuwe identiteit was gesetel in Christus en dit het vir hulle ’n nuwe taal en nuwe gedrag geskep. Nee wag, voordat jy my verkeerd hoor: die kruis was nie maar net hulle ontsnappingsroete, hulle “escape clause,” nie. Die eerste Christene het geweet die kruis is hulle doodsvonnis. Hulle het gedeeltes soos Markus 8:34-36 eerstehands geken dat hulle Jesus se kruis dra en dat hulle reeds hulle lewens vir Hom afgelê het. Maar hulle het ook geweet dat hulle ander mense moet dien en liefhê. Jesus se selflose, opofferende liefde het gemaak dat hulle nie meer gedefinieer is deur hulle status, geslag of volksverband nie (Galasiërs 3:28). Hulle het geweet die muur van skeiding tussen mense is afgebreek hier in hulle midde (Efesiërs 2:11-22). Ook is hulle lewens nie omraam deur al die onregte wat ander hulle aangedoen het nie, want hulle het geweet hulle is nou “in Christus.” Hulle is nuwe mense. Daarom was hulle gesprekke en hulle lewe geanker in Christus en in diens aan ander. Geen wonder nie dat ander mense na hulle begin luister het. Hulle nederige lewens en hulle sagter woorde was magneties mooi.


Moet ons nie opnuut tot bekering kom nie? Ek bedoel een wat ons woorde, ons gesprekke en ons dade ingrypend verander!

Comments


bottom of page