• deur Roedolf Botha

Episode 6 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oefening Romeine 7 is die enkele hoofstuk in die Nuwe Testament waaroor daar die heel meeste geskryf is. Een van die redes hiervoor is dat Paulus hier aangaande een van die mees teologies komplekse elemente van die evangelie nadink en skryf, naamlik die innerlike stryd van die mens, asook die rol wat die Wet in ‘n genadegedrewe omgewing speel. Dis daarom goed om sommer van die begin af ‘n goeie geheelindruk van die teks self te kry, voordat ons begin dink oor die interpretasie daarvan. Lees daarom die hele Romeine 7 ‘n paar keer deur, soveel kere soos wat jou tyd jou toelaat. Skryf neer wat die geheelindrukke is wat by jou na vore kom. Voor die koms van Jesus het die baie nodige, maar hoë standaard van die Wet die lewens van die gelowiges gerig en bepaal. Jesus se lewe, dood en opstanding het egter nou ‘n radikale skuif in ons geestelike fokus gebring. Alhoewel die Ou Testament natuurlik ook baie oor liefde en genade gepraat het, is ‘n nuwe soort genade nou in Jesus geopenbaar. Nou is die vrye, kruisverdiende genade die fokus, asook die hoë standaard van radikale en liefdevolle goedheid teenoor mekaar. God aanvaar ons nou slegs deur geloof, nie omdat ons aan dogmatiese wetlike voorskrifte voldoen nie. Die groot vraag van enige Jood of iemand wat met die Ou Testament bekend is, is gevolglik watter rol die Wet dan nou gaan speel in hierdie nuwe Jesus-bedeling. Wat is Paulus se antwoord hierop in 7:1 - 6? Skryf dit in jou eie woorde neer. Oordenking Deur die beeld wat Paulus in verse 2 tot 4 gebruik, probeer hy om dit duidelik te maak dat, net soos die dood van enige party in ‘n huwelik getrouheid aan die landswet ophef, dit geestelik ook waar is. Voor Jesus was alle getroue Jode “getroud” met die Wet. Die Wet was al wat ons toe gehad het. Die letter van die Wet het ons lewens rigting, doel en betekenis gegee. In Romeine 6 het Paulus egter gesê dat ons, wat Christus aanvaar het, nou saam met Christus gesterf het. Dit beteken dat die Wet in ‘n sekere sin nie meer vir ons geld nie. Ons het gesterf vir die Wet. Enige wet is tog irrelevant vir dooie mense! Ons het egter opgestaan tot ‘n nuwe lewe, verbonde aan Jesus, ons nuwe Here. Paulus se punt is dat ons nie aan twee lewensmaats gelyk getrou kan wees nie, maar slegs aan een, naamlik Jesus. Die Wet geld nie meer nie, want ons het gesterf vir die Wet. Ons is dood vir die Wet om te lewe vir Jesus. Verse 5 tot 6 vertel hoe die Wet ons sondige begeertes wakker gemaak het. Hiermee bedoel Paulus dat die Wet ons verbeelding indirek in diens van sonde gestel het. Dit beteken nie dat die Wet sleg was nie - inteendeel. Die Wet leer ons wat verkeerd en wat reg is (vers 7). Kom ons neem die voorbeeld van Adam en Eva. Voordat God vir hulle gesê het om nie van die boom van kennis, goed en kwaad te eet nie, sou hulle dalk waarskynlik nie eers in die boom geïnteresseerd gewees het nie. Nadat God egter vir hulle die bevel gegee het om nie van die boom te eet nie, het hulle verbeeldingsvlugte oor die boom begin beleef. Hulle het “bewus” geraak van die boom en sy lekker vrugte en kon dink oor dinge soos: Ek wonder hoe proe daardie vrugte; ek wonder waarom mag ons nie daarvan eet nie; sal dit regtig so skadelik wees om een happie van die verbode vrug te neem; probeer God eintlik iets lekker van ons af weghou deur sy opdrag? Die opdrag oor die boom het dit dus vir hulle moontlik gemaak om God nie te gehoorsaam nie. Voorheen was dit nie moontlik nie, want daar was geen standaard of opdrag nie. Nou het hulle egter begin droom oor die moontlikheid om die vrugte daarvan te eet. Hierdie dromery oor die boom het later omgeskakel in direkte versoekings om wel aan die vrugte te proe. Voor God se opdrag was dié moontlikheid nie daar nie. Aan die ander kant kon ‘n liefdevolle God tog nie stilbly oor wat reg of verkeerd is nie. Saam met sy waarskuwing en opdrag oor wat reg en verkeerd is, is die versoekinge egter ook geaktiveer. Die laaste sinnetjie van vers 4 is baie interessant (Daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God). Dit impliseer dat ons steeds leef volgens ‘n morele standaard (vrugbare lewe). Die standaard is egter nie die ou uitdrukking van die Wet nie, maar dat ons “getroud” is met Christus. Hý is dus ons nuwe Wet! Die ou Wet het dus nie verval nie, maar ‘n nuwe, beter en volledige vorm in Christus en sy genade aangeneem! Daarom sê die laaste sinnetjie van vers 6 ons dien nou in die nuwe bedeling en nie die ou bedeling nie. Die oue was die ou vorm van die Wet, nie die onvolledige nie. In die nuwe era dien ons dus Christus uit liefde en deur die Gees en nie die ou vorm van die Wet met al sy voorskriftelikhede nie. Oefening Maak die laaste gedeelte vir jou sin? Kan jy dit in jou eie woorde omskryf deur slegs een of twee sinnetjies te gebruik? Probeer gerus. Oordenking

  • Kom ons kyk na verse 7 - 25. Met die oog op die regte verstaan en interpretasie van hierdie gedeelte, is dit belangrik om te verstaan dat Paulus hier ‘n skryfstyl gebruik, wat genoem is nabootsing of rollespel. Hy praat regdeur in die eerste persoon (“ek”) sonder dat hy van homself praat. Hy speel in hierdie deel die rol van die mensdom voor Christus, wat onder die Wet geleef het. Wanneer hy dus sê ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie vir die Wet was nie, dan praat hy nie net van homself nie, maar ook van die volk van God onder die Wet, dit wil sê vóór Jesus. Deur die eerste persoon aan te neem, vertel hy dus eintlik die geskiedenis en geestelike verhaal van die mensdom in Adam oor, deur homself in die skoene van die Ou Testamentiese mens te plaas. Hy vertel watter geestelike effek die Wet op die mens gehad het voor Jesus.

  • Sy vraag in vers 7 oor of die Wet dan nou sonde is, is retories. Dit beteken dat die antwoord daarop eintlik vanselfsprekend is: natuurlik nie!

  • In verse 7 - 12 maak hy weer die punt dat die Wet goed is, maar wel onvolledig. Daarom kon hy ons leer wat sonde is, maar die Wet kon ons nie red nie. Soos met ons Adam en Eva voorbeeld hierbo, verduidelik hy dat indien die Wet dit nie duidelik gemaak het dat Jy nie mag begeer nie, die mens nooit sou weet dat dit verkeerd sou wees om te begeer nie. In daardie opsig is die Wet dus goed. In vers 8 sê hy dat, soos met Adam en Eva, die sonde egter vastrapplek gekry het. Die gebod om nie te begeer nie, het hom dus slegs bewus gemaak van al die dinge wat hy wel kan begeer! Die Wet kon hom egter nie verder help nie, want die Wet kan nie die hart van die mens verander nie - slegs Christus en die Heilige Gees kan.

  • ‘n Tweede effek wat die Wet op die mens gehad het, word verduidelik in verse 13 - 20. Alhoewel die Wet goed bedoel het (om mens te wys op reg en verkeerd), het dit eintlik ‘n gesplete persoonlikheid by mense veroorsaak. Die mens het nou geweet wat verkeerd was, maar die Wet het nie die innerlike krag en transformasie voorsien om ‘n nuwe gehoorsame lewe te leef nie. Daarom sê Paulus dat die mens voor Jesus die goeie wíl doen, maar hy doen dit nie. Die slegte wat die wetsgehoorsame mens egter nie wíl doen nie, juis dít kom na vore in sy lewe (verse 15 - 16, 18b - 21). Hy kan dit nie keer nie, al wil hy en al weet hy wat reg is!

  • Vers 24 tot 25 bring die Ou en Nuwe Testament mooi bymekaar. Die kreet van die wetsgehoorsame mens voor Christus was: Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Paulus gee egter dadelik die antwoord van die Nuwe Testament: Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus, ons Here! Dit beteken dat God nou in Jesus en deur sy Gees in ons harte woon. Die nuwe Wet, die Wet van Christus woon nou binne-in ons en fasiliteer ‘n nuwe, lewende verhouding tussen ons en God. Dáárdeur word ons harte nuut gemaak en stel dit ons in staat om aan die eise van die Wet te voldoen. Natuurlik worstel ons nog steeds met die sonde binne-in ons, maar dis nou nie meer vanuit ‘n gesplete persoonlikheid nie, maar vanuit ‘n nuwe posisie en heel mens in Christus.

  • God se plan met die Wet was dus goed, baie goed! Hy wou ons leer hoe om te leef. Daarom verval geen letter of letterstrepie van die Wet nie (Matteus 5: 18 - 20). Elke letter of letterstrepie van die Wet word egter opgeneem in Wie Jesus is. Hy neem die ou Wet, maak dit volledig en vernuwe dit. Daarom is Jesus en die Gees nou ons nuwe Wet. Daarom kan ons nie meer na die ou Wet kyk, asof Jesus nie gekom het nie. Jesus neem nie die Wet weg nie, maar maak dit volledig. Die Wet is nou nie meer ‘n stel reëls nie, maar ‘n Persoon (Jesus) met wie ons in ‘n verhouding kan staan.

GEBED: Here, dankie dat U ons tegemoet kom, selfs in ons eie sonde. Dankie dat U die Wet nie verlore laat gaan het nie, maar dit verbeter het sodat U, die nuwe Wet, nou binne-in ons woon en ons van binne af nuut maak! Dankie dat U ons red van die doodsbestaan van die Wet!


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: