• deur Roedolf Botha

Episode 5 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oefening ‘n Mens verstaan soms eers werklik ‘n nuwe konsep, wanneer jy dit vir iemand moet verduidelik of dit op skrif sit. Probeer in jou eie woorde die idee op die video, van Paulus se Indikatief-imperatiefbeginsel, in ‘n kort paragrafie weergee. Dink ‘n bietjie hoe jy jouself – of ander mense – sou motiveer om gehoorsaam aan God se wil te leef. Soos reeds op die video gesê, Paulus doen dit deur middel van die gelowiges in Rome se nuwe identiteit in Christus. Lees Romeine 6:1 - 11 en beskryf in meer detail wat hierdie nuwe posisie van die gelowige in Jesus presies behels. Oordenking Paulus motiveer die gelowiges in Rome om reg te leef, deur Jesus se fisiese dood en opstanding te vergelyk met die geestelike dood en opstanding wat elke gelowige beleef, wanneer hulle tot geloof in Jesus kom. Wanneer Paulus in vers 3 daarvan praat dat hulle gedoop is, dan verwys hy na hulle proses van tot-geloof-kom in Jesus. In daardie dae het die eerste gelowiges hulleself onmiddellik laat doop, wanneer hulle Jesus as Koning aanvaar het. Hy beskryf dus hulle nuwe identiteit in Jesus, hulle nuwe, permanente posisie in Jesus. Hy verduidelik dat, toe hulle tot geloof gekom het, hulle eie lojaliteite verander het. Hulle het eers vir hulle eie sonde geleef, maar nou is hulle “dood” vir die sonde. Die sonde hoef dus nie meer mag oor hulle te hê nie. Omdat gelowiges nou in ‘n verhouding met God staan deur Jesus, is hulle ín Jesus - dis hoe Paulus dit stel in 8:1. Jesus se sterf-aan-die-kruis-vir-ons-sonde word nou die simbool daarvan dat ons “dood” is vir daardie sonde. Met ons gelowigwording het ons dus één geword met Jesus in sy dood. Dit beteken nie dat ons nooit meer kan sondig in ons elke-dag-lewe nie. Wat dit wel beteken, is dat God ons nie meer as sondaars sien nie. Wanneer iemand ‘n slaaf was van ‘n sekere persoon en hy sterf, kan hy tog nie voortgaan om daardie persoon se slaaf te wees nie. Daardie persoon is mos dood! Netso met die sonde. In vers 4 praat Paulus op dieselfde manier oor Jesus se opstanding uit die dood. Net soos wat Jesus letterlik uit die dood opgestaan het, het ons ook geestelik saam met Jesus opgestaan tot ‘n nuwe lewe. (Ons sal egter wel aan die einde van die geskiedenis self ook letterlik opstaan tot die ewige lewe.) Verse 6 tot 11 verduidelik dan dat sonde om hierdie rede nie meer by ons pas nie. ‘n Nuwe Christus-gerigte lewe pas ons nou beter. Sonde resoneer nie meer met ons nuwe identiteit in Jesus nie. In Jesus se oë is ons nou nuwe mense, wat veronderstel is om nuwe lewens te leef onder God se heerskappy, weg onder die heerskappy van sonde uit. Ons is nou één met Jesus in beide sy dood en opstanding. In verse 12 tot 14 beskryf Paulus nou die praktiese implikasies van ons nuwe posisie en identiteit in Jesus. Hier gee hy vir die eerste keer ‘n bevel: Moet dan nie langer toelaat dat die sonde oor jou daaglikse lewe heerskappy voer nie. Sonde hoef nie meer die mag oor jou te hê nie. Moet dus nie die mag aan sonde teruggee deur steeds te leef soos voor julle ontmoeting met Jesus nie. Oefening Lees 6:1, 15. Ons leef nou in genade. Al ons sonde van die verlede, hede en toekoms is nou vergewe. Kan dit dan nie beteken dat ons nou maar kan leef soos ons wil nie? Alhoewel ons hierdie vraag reeds gedeeltelik beantwoord het, vra Paulus die vraag weer ‘n keer van ‘n ander hoek af in vers 15 om die punt duidelik oor te dra. Verlaag onvoorwaardelike genade nie juis die eise, wat God aan ons lewens stel nie? Dink daaraan: indien God sy liefdevolle goedheid oor ons uitstort deur ons te vergewe wanneer ons elke keer sondig, moet ons dan nie soveel moontlik sondig sodat ons meer liefde van God kan kry nie? Dink ‘n bietjie hieroor na en skryf ‘n paar gedagtes neer. Kyk of jy aan ‘n paar ander addisionele redes kan dink as wat reeds bespreek is. Oordenking Lees verse 15 tot 23 deur. Genade behels juis nie die vryheid om te doen wat ons wil nie, maar die vryheid om te doen wat God wil! Voorheen het ons geen keuse gehad, toe ons slegs die sonde gedien het nie. Genade herinner ons egter juis daaraan dat ons nou in ‘n liefdesverhouding met God staan en liefde motiveer ons altyd om die Persoon in ag te neem wat ons lief het. Hier motiveer Paulus die Romeinse gelowiges met dieselfde beginsel as vantevore, maar deur ‘n nuwe metafoor te gebruik, naamlik dié van slawerny. Paulus beweer dat menswees soos slawerny werk. Elkeen van ons is áltyd ‘n slaaf van iets of iemand. Selfs iemand, wat sou beweer dat hy niemand se slaaf is nie, word eintlik maar net die slaaf van sy eie begeertes en agendas. Dit kan uiters gevaarlik wees, soos ons kon sien in Romeine 1:26 - 28. Ons kan dus nou kies of ons die slaaf wil wees van ‘n slegte meester of ‘n genadige meester, wat ons beste belange op die hart dra. Dit staan ons steeds vry om ons meester te kies. Ons kan kies om sonde steeds te gehoorsaam, maar dan moet ons twee dinge besef: Eerstens pas sonde nie meer by ons nuwe lewe nie. Ons leef dus inkonsekwent. Tweedens moet ons kennis neem daarvan dat gehoorsaamheid aan sonde tot die dood lei. Dit lei tot vernietiging en ondergang en uiteindelik God se oordeel (verse 16, 23 asook Romeine 1:18, 26 - 28). Paulus se pleidooi is dus: Kies wie se slaaf jy wil wees. Kies egter reg: kies die lewe! GEBED: Here, dankie dat ons dood is vir die sonde. Dankie dat die sonde en die doodsheid daarvan nie meer oor ons hoef te heers nie. Help ons asseblief dat ons elke dag ook in ons daaglikse lewenswandel die sonde sal neerlê en in Jesus nuwe lewens sal leef.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: