• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief - Desember 2018


"They all were looking for a king, to slay their foes and lift them high:

thou cam’st, a little baby thing, that made a woman cry.”

Die Skotse digter, George MacDonald

Om waarlik te rus, moet jy jouself oorgee

By die skepping het God bepaal dat die lewe ‘n ritme van werk en rus moet wees. Ons hou nie ‘n rusdag omdat daar niks beter is om te doen nie, maar omdat ons vertrou dat God ons Voorsiener en ons sekuriteit sal wees. Die sabbat is meer ‘n verklaring van God se krag as ‘n erkenning van ons swakheid.

Die sabbatsbeginsel is nie net een dag per week nie. Ons rus moet gereelde en voldoende slaap, daaglikse stiltetyd en jaarlikse vakansies insluit. Dit sluit selfs in om vrygewig te gee, want dit is ook ‘n verklaring dat God ons Voorsiener is, en dat ons ons vertroue in Hom plaas om te voorsien in ons behoeftes. In werklikheid stop jy en verklaar dat Christus jou rus is. Dit is waarvan Jesus in Matteus 11:28 – 30 praat; Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.

Hierdie gedeelte verwar baie mense. Was Jesus se las lig? Was dit nie die kruis nie en dit is nie lig nie. Vir dié wat vermoeid is, bied Hy ‘n juk aan. ‘n Juk is immers op osse geplaas as hulle moes ploeg. Lig? ‘n Juk is die laaste ding wat moeë werkers nodig het. Hulle sou eerder ‘n matras of ‘n vakansie verkies.

Daar is ‘n tyd vir ‘n matras en ‘n vakansie. Jesus weet dat as dit al is wat Hy vir ons gee – tydelike ontsnapping – sal jy gou weer terug wees - uitgeput en oorlaai. Wat Jesus bied is nie ‘n ontsnapping van die lewe nie, maar ‘n nuwe manier om deur die lewe te kom en sy verantwoordelikhede te dra. In plaas van ‘n ontsnapping van die druk bied Jesus vir ons nuwe toerusting aan om die las te dra.

Die beeld van die juk bemoedig my moeë siel. As jy saam met iemand wat baie sterker as jy is saam in ‘n juk moet trek, dra die sterker person die meeste van die gewig. Dit herinner my ook dat die tipe rus wat God bied net beskikbaar is vir diegene wat volkome toegewy is. ‘n Juk bind die een os aan die ander een. Dit beteken hulle kan die las deel, maar hulle kan nie afsonderlik reis nie.

Die moeilikste manier om te leef is dié wat baie godsdientige mense doen. In plaas van volledige oorgawe aan God aanvaar hulle ‘n godsdienstige kontrolelys van dinge wat hulle moet doen om God gelukkig te hou. Dit maak hulle besiger en hulle las voel swaarder. Hulle kry nie die voordeel van rus wat volg op volledige oorgawe en te weet dat Hy die grootste deel van die gewig van die juk dra nie.

Baie dae swoeg ek onder my eie juk. Wat ‘n verskil maak dit nie as ek soggens opstaan en te weet dat ek doen wat Jesus vir my gesê het om te doen en dat Hy beloof het dit sal werk. As jy die ware rus verlang, moet jy die sabbat ernstig opneem en jou volledig oorgee aan Christus se juk.

Die einde van bekommernis.

Will Van Der Hart en Rob Waller het ‘n interessante boek: The End of Worry; Why we worry and how to Stop, geskryf. Hier is ‘n kort opsomming:

  1. Almal bekommer hulleself – dit is net die aard en graad van bekommernis wat van persoon tot persoon verskil.

  2. Die gevolge van bekommernis. Bekommernis het baie negatiewe gevolge soos byvoorbeeld angs, spanning, moegheid, geïrriteerdheid, slapeloosheid, skaamte, stukkende verhoudings, verminderde produktiwiteit.

  3. Christene is skaam as hulle hulle bekommer; want dit lyk asof hulle sukkel om God te vertrou of sy opdragte om hulle nie te bekommer nie, te gehoorsaam. Hulle is bekommerd oor hulle geestelike toestand. Daarom steek hulle dit weg vir die kerk en selfs hulle nabye vriende.

  4. Christene neig om bekommernis as ‘n uitsluitlik geestelike probleem te sien. Hulle is dikwels nie bewus van sielkundige faktore nie. Hulle glo dit is die gevolg van ongehoorsaamheid en ‘n gebrek aan vertroue. Daarom is hulle te skaam om te erken dat hulle ‘n probleem het of om hulp te soek.

  5. Bekommernis is besig met môre. Dit is in teenstelling met depressie wat veral op die verlede fokus.

  6. Erge bekommernis of erge angsstoornis is algemeen. Erge angs stoornis affekteer 44 uit elke 1000 volwassenes. Minder ernstige stoornisse van bekommernis affekteer 164 uit elke 1000 mense.

  7. Erge angsstoorniss is meer soos agtergrondlawaai. Anders as paniekaanvalle wat ooglopend is of fobies wat spesifiek is, neig algemene angsstoornisse om in die agtergrond te wees soos ‘n konstante mis wat van die see aangerol kom.

  8. Bekommernis kan verminder word. Dit sluit in geestelike, fisiese en sielkundige werk. Ons moet verskillende versterkingsoefeninge doen om reg te kom.

Skiëntisme

Skiëntisme is ‘n filosofiese tesis. Die aansprake van skiëntisme is verklarings oor die wetenskap en nie van die wetenskap nie. Skiëntisme is die seining dat die enigste kennis wat ons kan hê is daardie kennis wat in die harde wetenskappe (veral chemie en fisika) getoets is. Alle ander aansprake - byvoorbeeld teologies, eties, polities en esteties – is bloot uitdrukkings van emosies en private menings.

Skiëntisme is die basiese fondament van ons sekulêre kultuur. Dit marginaliseer ons Christelike geloof en etiek. Skiëntisme lei tot die sekularisering van ons kultuur, want dit lei mense om te glo dat niemand iets van God kan weet nie, ens. Daarom kan aansprake in godsdiens en etiek geïgnoreer word, want niemand kan weet of daardie aansprake waar of vals is nie. Skiëntisme veroorsaak dat mense die Christelike geloof verlaat. Volgens ‘n opname deur Barna is vyf van die ses redes waarom mense die kerk verlaat die suspisie is dat daar geen goeie rede is om dit te glo nie. En van die redes is dat die kerk nie op datum bly (en die lidmate daarmee help) met die ontwikkelinge van die moderne wetenskap nie. En hoe om hierdie ontwikkelinge vanuit ‘n Bybelse wêreldsiening te verstaan.

Daar is egter dinge wat met groter sekerheid in teologie en etiek verstaan kan word as sekere aansprake in die wetenskap.

Oorweeg hierdie twee aansprake:

  1. Elektrone bestaan; en

  2. Dit is verkeerd om babas te mishandel net vir die plesier daarvan.

Watter een weet ons met die grootste sekerheid?

J. J. Thompson het elektrone ontdek. Niemand glo vandag dat die elektrone soos beskryf deur Thompson bestaan nie, want ons sienings het so baie verander. Dit is moontlik dat 100 jaar van nou die wetenskaplikes se beskrywing van elektrone so baie sal verander dat wetenskaplikes nie meer sal glo in elektrone soos ons dit vandag beskryf nie.

Die tweede aanspraak oor die baba, sal niemand misken nie al weet hulle nie hoe hulle weet dit is verkeerd nie, maar almal weet dit is waar. As iemand dit ontken, het hy terapie en nie ‘n argument nodig nie. Dit is moeilik om te sien watter rasionele oorwegings oor die volgende 100 jaar daartoe sal lei dat ons dit nie langer sal aanvaar nie. Dus: ons het meer sekerheid in die tweede aanspraak as in die eerste een.

Dieselfde geld vir sekere teologiese aansprake; soos dat God bestaan. Hier is vyf dinge wat teïsme kan verduidelik, maar nie die wetenskap nie:

  1. Die oorsprong van die heelal;

  2. Die oorsprong van die fundamentele natuurwette;

  3. Die oorsprong van die bewussyn;

  4. Die bestaan van morele, rasionele en esteties objektiewe wette en intrinsieke waardevolle dinge; en

  5. Die fyn instelling van die heelal.

Saam het teologie en wetenskap ware dinge om vir ons van die wêreld te vertel.

Die aansprake van skiëntisme moet aan gelowiges veral aan ouers bekend gemaak word. in die kerk misluk ons dikwels om vir mense te sê hoekom hulle glo wat hulle glo. Ons berei dikwels nie ons kinders voor om by idees in die kultuur betrokke te raak nie. Skiëntisme is die fondament van ons sekularistiese kultuur en die aard en swakhede daarvan moet ‘n hoë prioriteit wees in ons onderrig in die kerk.

Hierdie artikel is gebaseer op J. P. Moreland se boek: The Soul: How we know it’s real and why it matters.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: