• Stephan Joubert

Openbaring Hoofstuk 19 [video]


DIE HEMELSE TROUE EN DIE RUITER OP SY WIT PERD

Feesvreugde breek uit in die hemel. ʼn Hemelse halleluja word drie keer gehoor in 19:1-5 ná die val van Babilon op aarde. Die hemele is immers deeglik op hoogte van wat op aarde gebeur. Hulle weet God staan aan die stuur van sake. Hyself tree op teen die goddelose vrou wat die wêreld korrup gemaak het en die bloed van sy knegte vergiet het. Nie Babel nie, maar die nuwe Jerusalem is waaroor dit nou gaan. Daarom, as teken dat die einde op hande is, word ʼn huweliksfees in die hemel gehou (19:6-10). Nogmaals begin dit met die tipiese taal van die hemel, naamlik lofprysing en ʼn verdere halleluja. Asof die hemelse skares dit nie reeds uitbundig genoeg doen nie, word almal hier opgeroep om God te eer en sy grootheid te besing, want die huwelik van die Lam het aangebreek. Teenoor die immoraliteit en seksuele losbandigheid van die aardse Babilon, vind ʼn heilige huwelik in die hemel plaas. Die hemelse bruid, die egte volk van God, se huweliksklere is haar reinheid en regverdige dade. Nee, hierdie is nie goeie werke waarmee sy haar plek in die hemel verdien het nie, maar wel daardie goeie dade wat God haar uit genade vergun het om in sy Naam op aarde te doen (19:7-8). Jesus verwerdig Hom nie om weer teen Satan te veg nie. Hy het reeds die oorwinning hier op aarde behaal (Kol 2:14-15). Daarom stuur Hy slegs sy engele om met die draak af te reken en die genooides, soos wat die seënspreuk van die engel bevestig. Sulke seën-uitroepe kom sewe keer in Openbaring voor (vgl. 1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7, 14). Net soos in Psalm 1:1, of in die bekende Saligspreuke van die Bergrede (Matt 5:1-11), sluit dit meestal ʼn toekomstige belofte in. In vers 9 gaan dit met name oor die uitnodiging na die Messiaanse fees (vgl. Jes. 25:6; Mark. 14:25; Matt. 8:11-12; Luk. 13:29).

Hoe word huweliksbeelde gebruik in Esegiël 16:7-14; Efesiërs 5:21-33 en 2 Korintiërs 11:1-3?

In 19:11-21 verneem ons van die Ruiter op die wit perd. Hierdie Ruiter is Christus Self en nie die ander ruiter op ʼn wit perd in hoofstuk 6 nie. Christus se oë vlam soos vuur (vlg. 1:14; 2:18). Ook het Hy baie diadems of heerserskrone op sy kop (ook die draak en die dier uit die see dra diadems ter nabootsing van Christus in 12:3 en 13:1). Saam met sy onbekende nuwe Naam het die Ruiter ook ʼn bekende naam, naamlik “Die Woord van God.” Hy is God se eksklusiewe, gesaghebbende Spreekbuis (vgl. Joh. 1:1-4). Ook het Christus oorlogsklere aan (vers 13), naamlik ʼn bloedbevlekte kleed. Christus het dus weer sy kruisklere aangetrek waarmee Hy vroeër die grootste oorwinning ooit in die heelal se geskiedenis behaal het toe sy bloed eens en vir altyd gevloei het. Hierdie is dus eintlik sy oorwinningsdrag.

Wat betref die hemelse leërs van vers 14 wat saam met Christus uittrek op wit perde – is dit engele of gelowiges? Waarskynlik is dit beide, aangesien al die hemelse skares by die huweliksfees aanwesig was. Jesus veg egter alleen (vers 15). Sy hemelse weermag se oorlogsdrag is feesklere. Hulle aanskou net hoe die twee sataniese diere in vers 17-21 verslaan word. Geen woeste gevegte volg nie. Ook word geen noemenswaardige weerstand gebied as die “wie’s wie” van die goddelose wêreld trompop in die Ruiter vasloop nie. Christus oorrompel die dier en die vals profeet en gooi hulle onseremonieel in die dam of poel van vuur as die ewige plek van lyding vir hulle en vir almal wat hulle brandmerk dra.

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: