• deur Roedolf Botha

Openbaring hoofstuk 1 [video]


OPENBARING AS ’N PROFESIE EN ’N APOKALIPS Sommer met die intrapslag lees ons in Openbaring 1:1 dat ons hier met ʼn apokalips te make het wat Jesus Christus aan sy kneg Johannes gee (1:2). Tog hoor ons in vers 3 dat dit ook ʼn profesie is wat hardop voorgelees moet word en wat seën bied aan sowel die voorlesers as die hoorders wat die inhoud hiervan ter harte neem. Die tyd of kairos waaroor die openbaring handel, is immers nou op hande. Dit wat Christus met sy kneg deel, gaan nie eers iewers in die verre verskiet plaasvind nie. Nee, hierdie einste profetiese toekoms wag net anderkant die horison op hom en sy hoorders en lesers. Volgens 1:4 is laasgenoemdes die sewe gemeentes in Klein-Asië aan wie verskillende profetiese boodskappe by wyse van afsonderlike briewe in hoofstuk 2-3 gerig word. Wanneer die genre of tekssoort van Openbaring dus ter sprake is, sou ons kon sê hierdie boek kombineer ʼn openbarende of profetiese woord van Christus saam met die visionêre belewenis en oorvertelling hiervan deur Johannes (by wyse van ʼn omsendbrief – 1:4-6). Die skrywer Johannes (wat dui op Johannes, die seun van Sebedeus, wat die Johannesevangelie en Johannesbriewe geskryf het), lewer nie sy profesie mondeling of hardop, soos wat die meeste Ou-Testamentiese profete gedoen het nie, maar stel dit op skrif as ʼn fyn deurdagte, beeldryke nadenke oor die inhoud en aard van sy verskillende visioene. Johannes het ook kennis gedra van ander apokaliptiese werke uit die Joodse wêreld van daardie tyd, soos Daniël, 1 Henog, 2-3 Barug en 4 Esra. Hierdie apokaliptiese geskrifte is gekenmerk deur verhaalryke visioene oor God se ingryping in die verloop van die geskiedenis om ʼn nuwe kosmiese werklikheid tot stand te bring. Binne hierdie werke heers daar ʼn sterk opvatting dat God van buite af moet ingryp om die sondige verloop van die wêreldgeskiedenis te vervang met sy nuwe hemelse wêreld. Die regverdiges wat hier en nou onregverdig ly onder sondaars en goddelose magshebbers, se hoop is eksklusief gerig op daardie nuwe wêreld wat God voorberei. Anders as “gewone” profesieë waar God se redding eerder binne-in die geskiedenis realiseer, hoop apokaliptiese profesieë weer op God se ingryping van buite die geskiedenis om ʼn nuwe wêreld te laat aanbreek. “God se groot uitkoms wag in die toekoms, in die nuwe Jerusalem,” soos wat Jan du Rand (Die A-Z van Openbaring. ‘n Allesomvattende Perspektief op die Boek Openbaring. Vereeniging: C.U.M. 2007) die kern van Openbaring se interpretasie van die huidige werklikheid omskryf. Watter profetiese elemente loop jy raak in Op 1:3; 22:7, 10, 18-19? BEELDRYKE TAAL Openbaring is deurdrenk van simboliese taal. Om dit te ignoreer, is om Openbaring verkeerd te lees. Vir Johannes en die eerste lesers was sulke taal nie onbekend nie. Ten einde sinvol oor die onsienlike wêreld van God te praat wat Johannes in sy verskillende visioene beleef, het hy hom veral gewend tot die beeldryke taal van die Ou Testament, asook simboliek wat in daardie tyd goed aan sy lesers bekend was. Dink maar aan sy verwysings na die vier lewende wesens in Openbaring 4 wat uit Esegiël se profesieë ontleen word; of die slang van Openbaring 12 wat uit die Genesisverhaal kom, of Jesus se uitbeelding regdeur die boek as die Lam wat die Ou Testamentiese offers in herinnering roep. In dieselfde asem gebruik Johannes graag simboliese getalwaardes, soos die getal 3 (God se getal); 4 (as simbool van die skepping – vandaar die vier lewende wesens, of die vier engele by die aarde se hoeke); 7 (as volmaaktheid of volledigheid – sewe lampe, gemeentes, Geeste, trompette, oë); 12 (as volk van die Here – die vrou wat omring is met twaalf sterre; Jerusalem se twaalf poorte en fondamente; 12 maal 12 maal 1 000 [144 000] as die volmaakte getal gelowiges); drie en ʼn half (die eindtyd) en 666 (as die Bose se uitkenningsteken op mense wat aan hom behoort). OPENBARING AS ’N TROOSVERHAAL VIR ’N KERK WAT LY Alhoewel ons nie presies seker is wanneer Openbaring die lig gesien het nie, is die mees waarskynlike ontstaanstyd rondom keiser Domitianus se bewind (81-96 nC). Vervolging het in sy tyd op sekere plekke teen Christene voorgekom, aldus Melito van Sardis. As gevolg hiervan was armoede, werkloosheid en veragting ook ʼn normale deel van hulle lewe. Daarom dat gelowiges in hierdie tyd aan Rome, die hoofstad van die Romeinse Ryk, gedink het as die nuwe Babilon wat sonde en opstand teen God die wêreld indra (14:8; 16:19; 17:4-5; 18:2, 10, 21). Watter tekens van vervolging teen gelowiges tref ons aan in Op. 1:9; 2:13; 3:9; 6:9; 13:17; 16:5-7? In ʼn wêreld wat teen die einde van die eerste eeu toenemend vyandig teenoor die Christene geraak het, skryf Johannes Openbaring om sy lesers se geloof te versterk. Hy is bewus van die vervolgings wat vroeër onder keiser Nero in Rome uitgebreek het (wat moontlik verband hou met die simboliek in Openbaring 13 rondom die standbeeld wat deur die tweede dier opgerig word, asook die merk van die dier wat op al sy volgelinge aangebring word). Ook weet Johannes bes moontlik van Domitianus se eis dat hy in die Romeinse provinsies as god vereer moes word. Trouens, sy onderdane moes die aanspreekvorm “dominus et deus” (“heer en god”) vir hom gebruik. Omdat Christene geweier het om dit te doen, was enigiets vanaf vervolging tot spot en verbanning uit die samelewing hulle voorland. Binne hierdie moeilike omstandighede voer Johannes-hulle (en ook ons as moderne lesers) mee op ʼn simboliese reis na God se hemelse wêreld om sy heerskappy, asook dié van die Lam, visueel te beleef. Ook reis hulle dwarsdeur die geskiedenis om Christus se triomf heel aan die einde van die tyd oor alle teenmagte, heersers en magshebbers mee te maak. Openbaring bevestig en versterk dus hulle Christelike identiteit. Anders gestel, gelowiges wat Openbaring lees, beleef deur hulle volledige deelwording van dié verhaal dat hulle Christus se ewige eiendom is. Hyself het sy naam en sy Vader se naam op hulle voorkoppe geskryf. Hulle plekke in sy ewige wêreld is veilig. Die teenstand wat hulle tans hier op aarde te beurt val, beteken glad nie God straf hulle nie. Of dat Hy afwesig is nie. Inteendeel. Ook weet hulle dat hulle nie hulle rug op die wêreld moet keer nie. God se koninkryk realiseer hier op hierdie aarde (11:15) en dit spoel uiteindelik oor na ʼn nuwe wêreld. Gelowiges mag en moet enduit volhard, omdat hulle weet hulle is nou reeds deel van God se splintenuwe wêreld. * Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: