
'n Kollega vertel my dat daar nie nou net meer helikopter mammas is nie, maar ook grassnyer mammas. Dit is daardie mammas wat hul kinders se paadjies voor hulle wil skoonmaak en gelykmaak. Ek dink in ons harte is alle ma's maar so. Ons wil nie hê ons kinders moet swaarkry, seerkry of ongelukkig wees nie.
My kind gaan deur 'n moeilike tyd, wat nou gemaak? Hoe help ek hom/haar? Feit is, diep in ons harte weet ons dat swaarkry karakter kweek. Maar ai, dit is so seer vir ouer en kind.
Indien jou kind dalk gestraf is by die skool, moenie sommer net ingryp nie. Jou kind moet leer om die gevolge van sy/haar dade te dra. Kinders moet ook leer dat verkeerde keuses sekere gevolge het en ouers kan nie net kan inspring en alles regmaak nie.
Die Junie-eksamen is pas verby en jou kind is dalk in sak en as oor sy/haar punte. Dalk het hy/sy nie hard genoeg geleer nie, of dalk volg hy/sy die verkeerde studiemetodes. Jou kind kan hieruit leer dat mislukking ons leer om te verbeter. Ons leer hoe om te studeer deur vorige foute. Mislukking leer ons ook hoe om probleme effektief op te los. Dit moedig ook denke aan - wat kan ek doen om volgende keer nie weer dieselfde fout te maak nie?
Moeilike tye kweek karakter. Ons almal weet dat moeilike tye vir ons almal uithouvermoë aanleer. In Romeine 5:3 en 4 lees ons:
...ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting.
Elke moeilike tyd waardeur ons gaan is 'n leerkurwe, 'n ondervinding waaruit ons leer. Ons leer deur ons foute, sodat ons volgende keer nie weer ons toon teen dieselfde klip stamp nie. Kinders leer deur moeilike tye empatie aan. Hulle kan nou vriende wat ook deur moeilike tye gaan bystaan.
Ons as ouers se rol is nie om ons kinders se lewe vir hulle te leef nie, maar om die aanmoedigers, bemoedigers, troosters en veral voorbidders te wees. Soms moet ons wel waarsku as hulle verkeerde keuses maak. In die grootwordjare moet kinders soms hulle koppe stamp, dan kan ons hulle weer op 'n liefdevolle manier wyse raad gee.
Ons kan dalk almal baat vind om die volgende Chinese spreekwoord te lees en onthou: Die juweel kan nie gepoleer word sonder wrywing nie: ook nie die mens sonder beproewing nie.