• ekerk

Geloofstorie [nuus]


Anita van Niekerk het 'n onderhooud met Stephan Joubert gevoer in die E-Finesse, Volume 3, bl. 24-27. Lees die artikel hier as PDF.

Wanneer STEPHAN JOUBERT (teoloog, skrywer en stigter van die ekerk) praat, sit mense regop

en luister. Sy kennis is indrukwekkend, maar dis sy nederigheid wat selfs dieper tref.

Wanneer jou lewe soos ’n gladde stroom verloop en alles mooi netjies in plek val, kan dinge gevaarlik raak. Toe dit in my lewe gebeur het, het ek op ’n dag met ’n skok besef: “Stephan, as jy

hiér bly, gaan alles net oor jou gaan. Jy gaan die eer kry, en die Here kry niks.”

Dit was nie ’n plek waar ek wou wees nie.

My lewe lank het ek nog nooit vreeslik ambisie gehad nie. Ek wou net doen wat ek geglo het binne my potensiaal was: ’n predikant by ’n kleinerige gemeente.

Maar die lewe het anders uitgewerk.

Toe ek as die jongste teologieprofessor begin naam maak het, het my loopbaan in alle rigtings ontplof. Plaaslik en oorsee. Skielik was ek oral in aanvraag. Almal wou iets van hierdie nuwe “prof. Joubert” hê. Dit was nogal erg om op so ’n jong ouderdom alles in my wêreld van teologie te bereik het.

“Is dit nou dít?” het ek my afgevra. Of ’n mens dit nou so bedoel of nie, daar kom ’n selfbehaaglikheid en arrogansie oor jou, en die dag as jy dit besef, weet jy: Nou is ek op onvaste grond.

Dit het my getref êrens op ’n bankie in die sneeu in Duitsland.

My vrou, Marietjie, het langs my gesit. “Hierdie is die einde van ’n era,” het ek stilweg vir haar gesê.

“Ek gaan bedank uit al my poste... en wag op die Here.”

Wat ek daarmee bedoel het, was dat die tyd aangebreek vir minder van my en meer van Hom.

Om onsigbaar te word, sodat mense nie meer vir my sal raaksien nie, maar die Een in my.

“Ek bid al lankal daarvoor,” het my vrou geantwoord.

Dit was ’n groot keerpunt, en die begin van ’n nuwe pad. My tweede helfte, waarin ek kon begin regmaak in die areas waar ek in die eerste deel van my lewe verbrou het.

Ek is een van die ouens wat nog altyd aan dié kant van die draad was. Vanaf my heel eerste gebede as ’n klein seuntjie was ek diep bewus van ’n Hoër Hand in my lewe. Hierdie passie kan jou soms egter oorboord laat gaan.

Op hoërskool was ek byvoorbeeld die tipe ou wat my rugbyspanmaats benoud laat wonder het of ek vir ons gaan begin bid sodra die skrum sak. Terselfdertyd wou ek veel eerder in die regte gaan studeer het as om ’n dominee te word.

Ek was nie baie lief vir die kerk nie. Dit het vir my te veel gevoel soos die Colosseum van ouds. ’n Plek waar jy bang moet wees. Waar goeie mense vir die leeus gegooi word. Waar daar kwaai ooms was wat meer oor sonde weet as oor God. ’n Plek waar sisteme belangriker is as liefde.

Mettertyd het die besef gekom dat daar ’n virus is wat net godsdienstiges blyk te tref. Ek noem dit die “harde hart”-virus, wat jou laat dink en optree in terme van “ons en julle”.

As jy hierdie virus onder lede het, is jy geneig om mense links en regs te oordeel: “Kyk hoe lyk julle... kyk hoe praat julle... kyk wat doen julle...”

Ek was ook daar, en soms pootjie dit my nog steeds. Toe ek nou die dag swak diens in ’n winkel kry, was ek dadelik weer op my perdjie. Verontwaardig. ’n Ontploffing van woorde het gevolg.

Toe ek uitstap, voel dit asof daar ’n hemelse hand swaar op my skouer druk, maar ek ignoreer dit. Hou myself “vol-wasse”. Ore vol was wat nie wil hoor nie.

Die swaarheid wou nie weggaan nie. Uiteindelik moes ek maar terugdraai en om verskoning gaan vra.

Ons leer nie verniet “pas jou hart op” nie.

Om ’n sagte hart, ’n hart vir mense, te hê is die eienskap waaraan ek nou nog die hardste werk in my karakterontwikkeling.

Dis moeilik om die eie ek tot op die been te stroop, maar soms is dit nodig. Kort nadat my nuwe pad begin het, was ek in ’n motorkaping betrokke. So iets laat jou in ’n oogwink besef dat geloof oor algehele oorgawe gaan.

Met ’n pistool teen my nek en die dood net die trek van ’n sneller ver, was ek diep bewus daarvan dat my einde aangebreek het. Daar was net twee dinge oor om te bid: “Moenie dat my dogter (vir wie ek buite in die motor gewag het) op ons afkom nie.” En: “Here, ek kom huis toe, maak solank die deure oop.”

Toe die rowers my net ’n stamp gee, die kar vat en wegry, het ’n volgende besef my kolskoot getref: Dis wraggies nog nie klaar met my nie! Daar is ’n vaste roeping op my lewe – en van hier af vorentoe gaan ek alles gee om dit uit te leef.

Daardie dag het ek die besluit geneem om bietjie vir bietjie dood te gaan aan myself en lewend te word in waar my geloofspad my sou lei. Dié pad het onder andere ’n draai in Nieu-Seeland gaan maak, waar ek gedink het ons gesin permanent sou bly.

Ons het alles prysgegee om te gaan, en alles verloor om terug te kom, maar in die proses ryk geword aan geestelike insig.

“Waar gaan jy die beste dien? Waar is die nood die grootste?” moes ek my afvra, en erken dat ek my roeping die beste sou kon uitleef daar waar dinge die moeilikste was. In my eie land.

Ek noem dit my woestynjaar. Dit het gevoel asof verfverwyderaar regoor my menswees geverf was. ’n Tydperk waarin ek verder gestroop is van hoogmoed, my behoefte aan erkenning, mense se heldeverering en die diep arrogansie wat nog iewers binne-in my skuil.

Die boodskap was duidelik: “Stephan, I cannot paint on a proud canvas. Maar noudat ons van hierdie dinge ontslae begin raak, kan jy bruikbaar word.”

Vandag nog kan ek dit nie verdra as mense meer van my maak as wat God van my dink nie.

Hy gebruik ons nie oor wie ons is nie, maar ten spyte van wie ons is.

Ek sal dit nooit weer vergeet nie.

’n Daaglikse detoks help om my ontslae te raak van die ou slaggate waarin ek so maklik trap. In baie opsigte was daar lank net drie mense in my lewe wat regtig saak gemaak het: ek, ek en ek.

Om van hierdie mentaliteit ontslae te raak, het ek doelbewus begin om myself tot ’n paar vaste gewoontes te verbind.

Een daarvan is om elke dag ten minste een goeie ding vir ’n ander te doen – enige ander mens, ongeag wie hulle is of waar ek hulle raakloop. My oë is doelbewus oop vir sulke geleenthede.

So sal ek ’n vreemdeling se rekening in ’n koffiewinkel betaal, of die ou in die kar agter my se tolgeld, of vir die hekwagte by ons sekuriteitskompleks nuwe hemde koop.

Hierdie dinge is nie om te wys hoe oulik ek is nie, maar om myself daaraan te herinner dat my lewe nie oor myself gaan nie, maar om diensbaar te wees aan ander.

Daar is niks wat jou so nederig hou as om buitengewoon belang te stel in mense nie. Een van my dissiplines is om ’n paar keer per week ’n koppie koffie saam met iemand te drink – enigiemand, nie net kerkkollegas nie. Die idee is om regtig na daardie persoon te luister en my later af te vra: Wat het ek vandag geleer?

Wanneer jy anders na mense begin kyk – elkeen as iemand wat ’n stukkie van die Skepper in hulle omdra – begin jy ook anders oor hulle dink, met hulle praat, na hulle luister en teenoor hulle optree.

My uitgangspunt is dat elke mens waardig is om met diep respek behandel te word, veral die mense op wie ons so maklik neersien.

Die beste teenvoeter vir selfsug is om weg te gee. Ek het lank gevoel dat geld die grootste euwel is. Dit was vir my moeilik om enigiets daarvan te geniet en dit het my skuldig laat voel, want geld maak jou dan ’n lelike mens...

Tot ek gesien het hoedat wonderlike mense met baie geld fantastiese dinge daarmee doen om die lewe vir ander beter te maak. Van daar af het dit net makliker geword: die besef dat geld wat op ’n eerlike wyse verdien word, ’n seën is wat jy mag geniet. En dit is selfs lekkerder as jy dit kan aanwend sodat ander mense wat minder het, dit ook kan geniet.

Dit het een van die beginsels in my lewe geword, en dit bring oneindige vreugde: om uit te deel wat jy ontvang.

Een van die praktiese dinge wat ek en my vrou doen, is om elke keer as ons ’n weelde-item aanskaf – byvoorbeeld ’n televisiestel of ’n kar – eerder die laer, goedkoper model te koop. Die geld wat ons dan in die proses spaar, word weggegee vir iemand in nood.

Op hierdie manier het ons vir Anna, ons vorige huiswerker, ’n huis laat bou met die geld wat gespaar is deur ’n motor te koop wat een vlak onder die model was waaraan ons eintlik gedink het.

Ons gedagte hiermee is dat elke keer as ons iets vir onsself aanskaf wat vreugde gee, wil ons ook hê dat iemand anders wat minder het, vanaand net so bly sal wees.

Ek het agtergekom dat dit ’n wonderlike manier is om jouself van ’n opgaardery te speen. Hoe meer jy weggee, hoe meer sal jy ontvang om weg te kan gee.

Paulus het ’n opmerking gemaak op die trant van: “Ek werk, sodat ander mense kan eet.” Dit is ’n gedagte wat my nou nog diep laat nadink.

My fokus is nie meer op geestelike groei nie, maar op geestelike impak. Ek ken ’n klomp geestelike reuse, maar in baie gevalle groei daar niks onder hulle nie.

My fokus het ’n bietjie verander. Ek probeer eerder om mense op my skouers te tel, sodat hulle kan groei, verder kan sien en meer kan bereik.

Dit geld oral in die lewe. Ons kan almal ’n ontsaglike positiewe impak maak deur hoe ons kies om in alledaagse situasies op te tree. Dit tref my nou die dag opnuut toe ek ’n petroljoggie groet terwyl hy die motor volmaak.

Hy glimlag skielik breed en vang my onkant met dié opmerking: “Jy het my dag gemaak!”

“Hoekom?” wil ek nuuskierig weet.

“Because you called me sir.”

“Nou wat noem ander mense jou?” vra ek, en moet net keer toe hy ’n rits lelike rassistiese name begin aframmel. “Maar waste mense noem jou so?” wil ek weet.

Die joggie reken dit moet seker kerkmense wees, want oor die radio in die motor het daar net gospelmusiek gespeel. Hy wens alle wit mense was eerder soos ek, voeg hy na ’n ruk se gesels by.

Maar eintlik weet ek die oplossing is dat ons almal eerder meer soos Jesus moet wees.

Dis eintlik ironies dat hoogmoed die sonde is wat Hom die meeste pla, en die kerk die minste.

Soms voel ek ons hou dienste, biddae en geestelike saamtrekke – maar raai wie daag nie op nie? Hy is elders besig, daar waar mense in nood is.

Iemand het eenkeer gesê ons kan Suid-Afrika binne 24 uur verander as ons minder bid en meer die antwoord op ons eie gebed word.

Sulke waar woorde.

Moenie die dinge doen wat maklik is nie, doen wat reg is. Nederigheid gaan nie oor wie reg is nie, maar oor wat reg is. Dit is een van die groot kopskuiwe wat ek moes maak.

Dis maklik om ’n kortpad na ’n antwoord of oplossing te kies, maar die maklike pad is nie altyd die regte pad nie.

Dit geld vir baie dinge.

“Gee jou hart oor,” word daar dikwels gesê... maar wat van jou kop? Hoekom moet ons dit vir onsself hou?

Vir my is dit belangrik dat ons harte én koppe saam gebruik moet word.

Kyk maar na hoe ons neig om die Bybel lees. Vir party mense is dit soos Die Groot Verseboek, en dit bly ’n “toe boek” totdat ’n krisis tref. Dan gaan slaan ons dit naarstig oop, soek ’n vers wat klink na die antwoord of verduideliking vir ons situasie, en pas krisisbeheer toe totdat die probleem verby is.

Daarna kry dit weer ’n lêplek langs die bed of op ’n boekrak.

Om net hier en daar ’n versie te gaan uithaal en dit op ’n situasie toe te pas, sonder om die groter konteks te lees of te probeer verstaan, is ’n kortpad wat ons soms kan mislei.

Dis eintlik so goed my vrou skryf vir my ’n lang brief en elke aand gaan lees ek net hier en daar ’n paragraaf. Dit sal moeilik wees om alles wat sy vir my wil sê, in te neem as ek rond en bont lees.

Vir my is die Bybel eerder ’n aaneenlopende verhaal, en dit wat ek elke dag daarin lees, probeer ek om ook na buite uit te leef.

So het dit vir my ’n oop boek geword. ’n Lewende boek. Dit maak dit baie meer opwindend.

Ek het my voorgeneem om altyd eerlik te wees, ter wille van die waarheid, al het dit my al kniediep in die moeilikheid laat beland. Marietjie pomp my gereeld in die ribbes wanneer ek al weer iets wil kwytraak wat mense nie wil hoor nie.

Maar sommige dinge moet gesê word. Soos die interessante tendens dat baie godsdienstige uitsprake van vandag glad nie in die Bybel staan nie.

Met alles wat deesdae gebeur, hoor jy gereeld hoe mense sê: “God is in beheer.”

Hy praat nie so oor Homself nie, en daarom moet ons dalk ook anders begin praat.

“Beheer” is ’n woord wat vrees, onsekerheid en angs opwek. Hy gebruik ’n ander tipe taal en sê eerder: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek is die goeie herder... die lig vir die wêreld... die weg, waarheid en lewe.” Dit is vredestaal.

Ons sê ook graag: “Hy het ’n plan vir jou lewe.” Ek wonder hoe iemand van tagtig moet voel as hy dit nog een keer moet hoor. Wanneer “gebeur” hierdie plan dan?

Sy plan, of wil, het ’n naam: Jesus. Dís die plan wat vir ons gemaak is, en ons laat hierdie plan prakties in ons lewe gebeur wanneer ons manier van dink, doen en praat daarby aanpas.

Of as iemand sterf, troos ons mekaar met die woorde: “Toemaar, alles gebeur met ’n rede.” Dis niks anders as ’n New Age-gedagte nie. Jy hoor dit selfs in Hollywood-flieks, in Moslem- gebede en in die idee van karma.

Die oorsprong kan teruggevoer word na die Griekse mitologie, waar drie godinne die lot van mense bepaal het. Die een het jou lewensdraad geweef, die ander het dit gemeet en die derde het die draad geknip.

Die feit is, ons is gebou vir die ewige lewe, maar dit lyk my niemand wil gaan nie! Ons soek altyd na ’n rede of antwoord.

Die antwoord lê in jou geloofsverhouding. Al sterf jy, sal hierdie verhouding nooit sterf nie.

Hoe dieper my geloof word, hoe meer glo ek soos ’n kind. Dis asof my twee doktorsgrade my nie veel oor geloof geleer het nie. Ek het baie meer by die Heilige Gees geleer, en deur mense en situasies fyn dop te hou.

Een van my doelbewuste keuses is om daagliks in verwondering te leef. Om nuuskierig te wees, nooit op te hou vrae vra nie en elke dag iets van die lewe te vier.

Navorsing het bepaal dat kinders onder ses jaar gemiddeld 300 vrae per dag vra. Dít teenoor volwassenes, wat daagliks by slegs ses vrae vassteek.

Wanneer mense dus ’n sogenaamde geestelike waarheid kwytraak, vra ek dikwels: “Hoekom?” Nie omdat ek probeer snaaks wees nie, maar omdat ons net iets nuuts leer of tot ’n nuwe insig kom as ons buite ons normale denkpatrone gaan ondersoek instel.

Breinnavorsing is een van my stokperdjies, en so weet ek dat die brein die hele tyd besig is om jou lewe in kaarte te giet. Sodra iets bekend raak, raak dit veilig, en sodra dit as “veilig” geklassifiseer is, gee jy min of geen aandag daaraan nie.

Daarom hou ek daarvan om dinge op ’n buite-die-boks-manier aan te pak sodat mense (en ekself) weer notisie sal neem, aandag sal gee, sal luister en leer.

Ek probeer om elke dag ten minste een nuwe ding uit die Woord te leer, uit ’n ander boek en by ’n mens.

Dit hou my daarop ingestel om te groei in my verstaan van die wêreld en sy mense – want dit is hier waar ek die graagste ’n impak wil maak.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: