
Ek lees onlangs die volgende aanhaling van Mandy Hale: "To make a difference in someone's life, you don't have to be brilliant, rich, beautiful or perfect. You just have to care." Gee ons nog genoeg om, of is neem ons eie besige lewens te veel tyd in beslag?
Jare gelede moes ons oudste dogter, toe nog 'n babatjie van 9 maande, 'n groot operasie ondergaan. Ons as jong en onervare ouers was baie bekommerd. By die hospitaal het vriende van ons ons ingewag. Hulle het vir ons gebid en ons toe geneem vir koffie en saam met ons gewag vir ons babatjie om uit die operasiesaal te kom. Dit was so 'n mooi gebaar van vriendskap, dat ek dit altyd sal onthou.
Om 'n verskilmaker te wees vra van 'n mens dat jy bereid moet wees om die ekstra myl te stap. Jy moet bereid wees om van jou tyd af te staan. Dit wys vir ander mense dat jy hulle belangrik genoeg ag om van jou tyd aan hulle te gee. Jy moet 'n intensionele besluit neem om tyd te maak vir 'n vriend in nood.
As jy 'n verskilmaker vriend wil wees, gaan dit van jou vra om iemand te wees wat altyd bereid is om te luister. Om regtig na jou vriende te luister, is 'n liefdesdaad. Ons lees in Jakobus 1:19: "Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense 'n kans gee om te se wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening.”
Jy kan altyd op 'n verskilmaker vriend reken om vir jou te bid. Vra jou vriende gereeld waarvoor jy kan bid en voeg dan die daad by die woord. 'n Kosbare vriendin van my bel my soms om vir my te se dat die Here my op haar hart druk, is daar dalk iets waarvoor sy kan bid.
As jy regtig 'n verskil in jou vriendekring moet maak, sal jou so moet optree dat jou vriende Jesus se liefde in jou lewe kan raaksien. Dit sal beteken dat jy nie sal kan meedoen aan skinderpraatjies nie. Miskien sal jy dalk ook 'n vriend/vriendin in liefde moet reghelp.
'n Verskilmaker vriend is iemand in wie se geselskap jy gemaklik voel. Dit is iemand voor wie jy glad nie pretensies hoef te he nie. Jy kan weet dat jy enige iets vir daardie vriend kan se en dat jy maar net jouself kan wees. Is jy so toeganklik, dat dit vir jou vriende lekker is in jou geselskap?
Dawid het 'n goeie vriend, Jonathan gehad. Is jy 'n Jonathan vriend, wat altyd lojaal bly? Is jy 'n Jonathan wat in goeie en slegte tye by jou vriende staan? Is jy so betroubaar, dat jou vriende altyd weet dat hulle op jou kan reken?