• deur Liezel Lüneburg

Die Reënboognasie is ʼn illusie


Suid-Afrika staan bekend as die Reënboognasie. Dit klink in baie opsigte idillies. Mense is skynbaar hier aan die Suidpunt van Afrika saamgesnoer om iets pragtigs, ʼn kleurvolle eenheid te vorm.

Maar kom ek lê nou vandag bloot wat al lankal in my hart kook: Die reënboog in die reënboognasie is maar net ʼn reënboog, ʼn optiese illusie.

In die laaste tyd raak ek toenemend bewus van haat, onvergenoegdheid, frustrasie en woede onder Suid-Afrikaners. Al hierdie negatiewe emosies kry uiting deur verbale en selfs fisieke aanvalle op ander. Ons sien dit die duidelikste op sosiale media waar hierdie binneste emosies daagliks in afgryslike woorde, beskuldigings en veralgemenings teenoor mede-Suid-Afrikaners, dikwels van ander rasse en kulture, manifesteer.

Ek worstel die laaste ruk met hierdie ding en in my soeke wonder ek oor Jesus se woorde: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Besef ek die impak van die opdrag? En wie is my naaste? Kan ek wegkom van die verantwoordelikheid deur ʼn afgewaterde, separatistiese en selfs segregasiese definisie van “naaste”? Mag ek van “ons” en “hulle” praat?

Deur die Bybel word daar verwys na “naaste”, “medemens”, “broer” en “volksgenoot” – dikwels as sinonieme – maar die enigste plek waar Jesus Christus verduidelik wie ons naaste is, is in Lukas 10 deur die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Ons almal ken die verhaal. Jesus wys logies dat die beseerde die Samaritaan se naaste is en dat die Samaritaan sy verpligting nakom deur hom te help.

Ek lees die gedeelte weer ʼn slag aandagtig en vir die eerste maal sien ek die ander kant van die muntstuk raak (ek is verseker nie die eerste een wat dit snap nie, maar dit was steeds ʼn eureka-oomblik!):

In die meeste preke en verduidelikings en selfs in my eie kop is ek die Samaritaan. Maar wat as ek, Liezel, ʼn blanke vroulike Afrikaner, die persoon is wat deur die rowers aangeval, kaal uitgetrek, halfdood geslaan en laat lê is? Wat as ek in geweldige pyn verkeer, my tong dors in my verhemelte kleef en my lippe bars van die warm son? Wat as my enigste gedagte is: “Here, red my, ek wil nie nou al sterf nie.”

En nou die kruks, die spil waarom my vrae draai: Wie wil ek hê moet my redder, my naaste in hierdie situasie wees?

Sal ek myself dankbaar oorgee aan die eerste persoon wat my optel en help of sal ek hom of haar wegwys op grond van velkleur, taal en kultuur? Sal ek eerder verder lê en wag tot iemand wat in my boksie pas, wat soos ek lyk en ruik, verbykom en help? Sal ek by myself dink dat ek maar eerder sal sterf voor ek híérdie persoon toelaat om aan my te vat?

ʼn Nog pynliker, meer benoude gedagte: Wat as dit my kind of eggenoot of ouer is wat langs die pad lê en ly?

Die begrip “naaste” dui op ʼn tweerigtingverhouding. Dink saam met my daaroor en deel jou gedagtes op die Facebook-post.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: