top of page

Die dag toe Jesus JA gesê het [resensie]

  • Marius Nel
  • Oct 24, 2016
  • 2 min read

Stephan Joubert is die redakteur van ekerk en deurwinterde teoloog wat wêreldwyd bedien as prediker, leierskapskonsultant en motiveringspreker. Hy het onlangs die Andrew Murray-prys vir een van sy boeke ontvang wat ook by CUM verskyn het, Jesus – ‘n radikale sprong. En hier is hy weer terug by die onderwerp waaroor hy die graagste skryf en preek – Jesus.

Getsemane is die verhaal van die Seun van God wat weet wat op Hom wag – en daarmee vrede maak. Hy staan daar van sy knieë af op, bereid om die lang pad van vernedering te stap waar sy eie volk Hom verwerp en Hom by die Romeinse owerhede verkla, waar Hy deur die vyand van sy volk bespot word, gegesel word en uiteindelik op pad na Golgota ineenstort sodat iemand uit Afrika sy kruis moet dra. Hy gaan lê op die kruis sodat soldate sy arms en bene met spykers daaraan kan vaskap. En met die doringkroon van bespotting op sy kop verneder verbygangers, die soldate en die ander man aan die kruis Hom. Hoekom? Vir JOU.

En wat vra Hy van jou ná alles wat Hy vir jou gedoen het? Dat ek en jy vir Hom JA sal sê. Stephan gaan steek dan kers op in die Evangelie van Markus, wat waarskynlik heel eerste op skrif gestel is, om te verduidelik wat Jesus se JA beteken, en wat ons JA van ons vra.

In sy kenmerkende duidelike styl daag hy jou uit om jou JA se sê in JA se doen te verander. Eers dan sal die lig van die evangelie helder in ons wêreld kan skyn omdat wat Jesus aan die kruis gedoen het deur ons lewe gereflekteer word.

Die Poolse priester Maximilian Kolbe was in Augustus 1941 in die doodskamp Auschwitz as die wagte besluit tien Joodse gevangenes moet ‘n hongerdood sterf as straf omdat hulle gemeen het ‘n Jood het ontsnap. Die priester was in Auschwitz omdat hy Jode in sy klooster versteek het wat deur die Nazi’s gesoek is. Hy kon daardie dag opstaan en sy lewe aanbied in ruil vir ‘n ander man omdat hy verstaan het dat God meer in ons glo as wat ons in onsself glo.

Stephan skryf oor wie Jesus regtig is, wat Hy gedoen het, hoekom Hy dit gedoen het en wat dit vir ons beteken dat die kruis kaal is, die graf leeg is en die hemel vol is. Sy boek is lewensveranderend omdat die evangelie van Jesus Christus jou hartgrondig verander.

Indien jy nie veel tyd kry om te lees nie en daarom slegs dit lees wat bladsy-vir-bladsy waarde vir jou tyd bied, is dié boek van Stephan die een boek wat jy in 2016 MOET lees!


 
 
 

Comments


bottom of page