Daar is nie iets soos geestelike vakansieverlof nie
top of page

Daar is nie iets soos geestelike vakansieverlof nie


Jy hoef nie ‘n dominee of ‘n pastoor te wees voordat jy voltyds in die Here se diens is nie. Dan sou dit beteken dat die meeste gelowiges Hom slegs deeltyds dien. Feit is, elke gelowige is 24/7@365 (24 uur per dag, 7 dae per week, 365 dae per jaar!) aan diens in sy aardse werkspan. Of jy nou ‘n onderwyser is, of ‘n motorwag - jy is altyd besig met puntdiens vir die Here. Jou dienspunte in die Here se Naam sluit al jou doen en late in. Jy is op puntdiens wanneer jy slaap, werk, fliek, eet, en vakansie hou... Reg gelees!

Daar bestaan nie iets soos “spesiale geestelike vakansieverlof” wat jou tydelik vrystel van jou roeping om Jesus se lig te laat skyn nie. Op elke plek waar jou voete val, moet jy sy terrein oppas, of besig wees om nuwe grondgebied vir Hom in te palm. Jy werk nie net sekere skofte by die kerk direk vir die Here, en daarna werk jy weer vir jouself in die ‘regte lewe’ nie. Nog duideliker gesê - jy werk nie eens vir die Here nie, jy leef vir Hom. Dit doen jy elke oomblik van elke dag van jou lewe.


bottom of page