Ontdek en gebruik weer daardie aangrypende titel vir Jesus
top of page

Ontdek en gebruik weer daardie aangrypende titel vir Jesus


Mense verwys graag na al God se Ou-Testamentiese name. Dis reg. Dis wonderlik. Maar ek hoor nie aldag van al die Nuwe-Testamentiese name of titels vir Jesus nie. In die evangelies is daar juis ’n paar aangrypende terme wat nie veel gebruik word in kerklike geledere nie. Die bekendste titel wat Jesus vir Homself gebruik is een so ’n voorbeeld. Ek praat van die term “Seun van die mens.” Wat beteken dit? Wel, ons lees in Matteus 9:6-7 dat Jesus sê dat Hy as die Seun van die mens volmag het om sonde te vergewe. En dat Hy volgens Markus 2:27-28 ook die Here oor die Sabbat is. In sy rol as Seun van die mens sal Jesus ook weer eendag terugkeer om te kom oordeel oor lewendes en dooies (Matt 25:31-46).

Jesus gebruik graag die term Seun van die mens wanneer Hy praat oor sy eie nederige aardse bestaan. As Seun van die mens word Hy dikwels bespot (Matt 11:19). Ook het die Seun van die mens nie eens ’n behoorlike slaapplek hier op aarde nie; Hy gebruik klippe as sy kopkussings (Matt 8:20). Tog het die Seun van die mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en om sy lewe as losprys vir baie af te lê (Matt 20:28). Daarom dat Jesus deur die loop van Markus 8-10 drie keer aankondig dat Hy as Seun van die mens in Jerusalem doodgemaak gaan word, maar dat Hy na drie dae weer uit die dood sal opstaan (8:31; 9:31; 10:33-34).

Jesus se ware identiteit word vasgevang in sy verwysing na Homself as Seun van die mens. In hierdie unieke titel leer ons vir Jesus ken as die nederige, lydende Here. Dit is Hy wat Homself vir ons opoffer tot in die dood, en wat die Skrif vervul (Markus 9:12; 14:21). Ook leer ons dat Jesus as Seun van die mens die toekomstige Redder en Regter van die ganse wêreld is (Markus 8:38; 14:62). Wat ’n eer om vir Jesus, die Seun van die mens, te mag ken. Hy is ons Heer, Ons Redder, ons Voorbeeld. By Hom as Seun van die mens leer ons elke dag om onsself op te offer en om die minste te wees (Markus 10:42-45).


bottom of page