Ek gee mos my tiende … die verskil tussen godsdiens en gehoorsaamheid
top of page

Ek gee mos my tiende … die verskil tussen godsdiens en gehoorsaamheid


Een van my mees gedenkwaardige ervarings was toe ons tydens ‘n kort vakansietjie in die Kruger Wildtuin saam met twee gewapende veldwagters in die veld gaan stap het. Op ons vraag oor wat sy mees angsaanjaende ervaring was, kom die antwoord: “Toe ek die slag tussen ‘n klompie leeuwelpies ingestap het.” Dit het nie eintlik gevaarlik geklink nie, totdat hy verduidelik het dat hierdie klomp “onskuldige” leeutjies beteken dat ‘n kwaai volwasse leeu net om die draai is.

Omdat ons die onbeskryflike voorreg het om van tyd tot tyd in ‘n privaat natuurreservaat te kan vakansie hou, kry ek gereeld nagmerries oor leeus naby ons. Maar ‘n droom wat toe ‘n heel ander betekenis kry, is een oor ‘n klompie klein en groot leeus. Ek het met die wakkerword slag besef dat selfs klein sondetjies uiters gevaarlik is, want dit beteken dat die groot sonde (die brullende leeu waarvan 1 Petrus 5:8 praat) net om die draai is.

Klein dade van gehoorsaamheid hét vêrreikende gevolge, maar net so het klein dade van ongehoorsaamheid vêrreikende gevolge. Die versoeking is om my gewete te sus met die feit dat ek verantwoordelikhede het in die kerk, dat ek dien op komitees en kommissies, dat ek selfs getrou my tiende gee, MAAR in Matteus 23:23 waarsku Jesus:

… julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste, maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom die wet eintlik gaan: om te doen wat reg is, om deernis te betoon en om mense van julle woord te wees (klem my eie).

Ek moet in álles aan God gehoorsaam wees. Voorspoed is ‘n gevaarlike lokval; dit bring die versoeking om my vertroue in my eie “goue kalf” te plaas. Dit mag meebring dat ek net soveel of selfs meer vertroue in my geld/posisie/aardse konneksies plaas as in God self. En in die proses word ek ‘n maklike teiken vir ‘n magtige vyand.

Die gelykenis van die tien meisies wat wag vir die bruidegom herinner my dat ek verantwoordelik is vir my eie verhouding met God, ek moet paraat wees, nie net vir die wederkoms nie, maar ook teen aanslae van die vyand wat my met die klein “leeutjies” probeer mak maak.

Daar ís ‘n verskil tussen godsdiens en gehoorsaamheid!


bottom of page