Selektiewe skrifaanhaling is nié cool nie
top of page

Selektiewe skrifaanhaling is nié cool nie


“Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het. Hulle begeer ʼn stuk grond en vat dit, huise, en lê beslag daarop. Hulle kul ʼn man uit sy huis uit, ʼn mens uit sy besitting uit. Daarom, so sê die Here: Ek beplan ʼn ramp teen hierdie mense, hulle sal dit nie kan ontwyk nie. Hulle sal nie meer regop kan loop nie, want dit sal ʼn tyd van swaarkry wees.” Miga 2.

Hierdie skrifgedeelte het nou net een maal te veel op my Facebook-muur opgeduik. Mense versprei ʼn foto van die verse wat swaar onderstreep is en die persoon was woedend en verbitterd toe hy/sy dit gelees het. Dit word duidelik uitgelê en wyd versprei met “grondonteiening sonder vergoeding” in gedagte.

(Ek vra sommer nou al dat die leser sal verstaan dat hierdie skrywe nié oor grondhervorming sonder vergoeding handel nie, maar wel oor onverantwoordelike omgang met die Woord van God.)

Om Miga 2 sonder perspektief en verduideliking te deel, is ʼn tipiese voorbeeld van onverskoonbare, selektiewe skrifaanhaling en kom neer op onnodige opswepery. Dit kan selfs haat aanblaas.

As ek dit nou reg verstaan, beskryf Miga 2, in die vorm van ʼn begrafnislied, die sonde van Israel: korrupsie, uitbuiting en magsmisbruik – om maar ʼn paar te noem. Die volk van God het teen Hom gesondig en sy straf en toorn het hulle soos ʼn swaar wolk getref – die Israelse Noordryk, Samaria, is in 722 vC deur die Assiriërs verwoes. Miga profeteer dat Juda sal ondergaan en is waarskynlik diepbedroef daaroor.

Kom ons vra nou twee vrae met betrekking tot Miga 2 om my punt te illustreer:

Is dit moontlik dat ʼn Christen wat gedurende apartheid benadeel is hierdie gedeelte sou lees en met vreugde uitsien na grondonteiening sonder vergoeding? Die onderdrukkers sal nou uiteindelik gestraf word!

Is dit moontlik dat ʼn Christen wat huidig grondonteiening in die gesig staar die gedeelte sou lees en met vreugde uitsien na die dag wat die onteienaars deur God gestraf word? God sal wel met die verloop van tyd met die huidige onderdrukkers afreken!

Ek hoop die leser verstaan waarvandaan ek kom en waarheen ek op pad is met hierdie skrywe:

Om enkele verse in die Bybel selektief en buite konteks op my eie lewe toe te pas, is ʼn baie gevaarlike praktyk. Vir verskeie redes. Een rede is dat dit God se Woord ʼn groot onreg aandoen en sy werklike bedoeling verwring en minder maak as wat dit inderwaarheid is. Dit neem die geloofwaardigheid daarvan weg!

Dit doen God se koninkryk oneindige skade aan. Is dit regtig wat ons wil hê?


bottom of page