Nuwe jaar, nuwe krag, nuwe moed
top of page

Nuwe jaar, nuwe krag, nuwe moed


Daar is min dinge wat die moderne Westerling so ‘n inspuiting van hoop gee as die begin van ‘n nuwe jaar, maar daarmee saam kom ook die vertwyfeling oor die uitdagings wat voorlê. Aan die een kant voel ek: Dis ‘n nuwe begin, ‘n nuwe kans om iets reg te kry. Aan die ander kant wonder ek: Gaan my/ons finansies uitwerk? Gaan ek regkom by my nuwe werk? Gaan ek dit hierdie keer regkry om my persoonlike doelwitte te bereik?

My roeping as Christen is natuurlik primêr om soos Paulus so te lewe en op te tree (met of sonder woorde) dat mense se oë sal oopgaan en “hulle ‘n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig…” (Handelinge 26:18 NLV)

Of ek dus in die raadskamer of klaskamer optree, of ek ‘n bank bestuur of baba grootmaak – alles wat ek doen, moet ek doen in die Naam van my Here Jesus. Wanneer ek Geesvervuld en Geesbeheerd lewe, kán ek in feitlik enige beroep ‘n getuie van God se liefde en genade wees. Kán ek goed doen as die geleentheid hom voordoen, wetende dat my werk ewigheidswaarde sal hê. Is dit belangrik watter keuses ek daagliks maak. Moet ek onthou dat “What you do today, matters for eternity.” (Life Application Bible, 1 Corinthians 15:30-34)

Wat my besorgdheid oor die toekoms betref, is dit goed om te onthou dat God die enigste blywende sekuriteit bied. As die onvermydelike haakplekke en uitdagings kom, het ek die troos van Hebreërs 13:6 NLV – Daarom kan ons moed skep en antwoord: “Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?”

Een Nuwejaarsvoorneme wat ‘n moet vir elke Christen is, waaraan ons heeljaar kan werk, is om gereeld werklik tyd in persoonlike Bybelstudie en gebed deur te bring – daardie dinamiese persoonlike stiltetyd wat ook van Jesus se lewe hier op aarde deel was. So leer ons die God van liefde beter ken, word ons verander om soos Jesus te wees, raak ons toegerus om deur ons voorbeeld, optrede en woorde ons Here Jesus se Naam te eer – om werklik ‘n verskil te maak in 2019.

Quit waiting for permission to do what you were made for. Go love everybody. – Bob Goff


bottom of page