Is daar spesiale plekke in die hemel vir mense wat harder gewerk het vir die Here as die res?
top of page

Is daar spesiale plekke in die hemel vir mense wat harder gewerk het vir die Here as die res?


Een keer moes ek by ’n kerk praat oor die lewe na die dood. Toe vertel iemand vir my sy het ’n kindjie op ’n vroeë ouderdom aan die dood afgestaan en wonder nou of sy haar kind in die hemel sal sien. Die rede? Sy het gedink syself gaan so ’n goeie blyplek daar kry as gevolg van haar toewyding aan God dat haar kindjie dan baie ver van haar af sou wees. Toe antwoord sonder om my woorde te tel dat sy nie bekommerd moet wees nie; ek sal sommer groete sê vir haar kind as ek daar aankom.

Die opvatting van ’n bodorp en onderdorp in die hemel is so oud soos die berge. Onder Rooms Katolieke het die idee van ’n spesiale klas gelowiges, (die “saints” of heiliges) vroeg-vroeg al posgevat. Hulle is blykbaar daardie mense wat soveel goeie werke gedoen het dat hulle permanente ereplekke in die hemel geniet, met ekstra krone en al! Party Protestante glo ook aan ’n hemelse genadeloon, of dat gelowiges kan werk vir ekstra krone en eer in die hemel. Hulle gebruik tekste soos Matteus 5:12, 19-20; 10:41-42 hiervoor, wat almal handel oor beloning. Om egter te begryp wat Matteus presies met loon bedoel, moet ons aanhou lees tot by Jesus se gelykenis van die arbeiders in Matteus 20:1-16. Hier vertel Hy van dagloners wat op verskillende tye van die dag vir ’n boer begin werk het, en wat almal uiteindelik ewe veel betaal word. Die punt wat Jesus wil maak is duidelik. God trek niemand voor nie. Volgens Jesus behandel Hy almal wat in Hom glo dieselfde. Dis genade! Genade vertel dat niks wat ons ooit gedoen het; tans doen, of nog in die toekoms gaan doen, kan maak dat God ons minder of meer liefhet nie- Hy het ons in elk geval lief (soos wat Philip Yancey genade beskryf).

Ons as gelowiges is nie hier op aarde in ’n kompetisie gewikkel om die beste hemelse plekke, of vir spesiale krone nie. (Dan sal die hemel ook nie meer lekker wees as ons moet kompeteer teen mekaar nie!) Ons hoef ook nie aan allerlei hemelse prestasiemetings te voldoen, of God se guns te verdien deur al ons harde geloofswerke nie. God het ons almal ewe veel lief. Dis genade. Sy hemelse “loon” vir ons almal wat in Christus glo is dieselfde, naamlik die ewige lewe. Dis wat God met ons elkeen ooreenkom wat in Christus glo en wat met dankbaarheid vir Hom in sy wingerd werk.


bottom of page