100 Bybelstories – vir kinders [resensie]
top of page

100 Bybelstories – vir kinders [resensie]


Hardeband boeke met meer as 300 bladsye en met 100 van die bekendste verhale uit die Bybel, so oorvertel dat kinders die essensie van die verhaal gaan snap en met taalgebruik wat dit moontlik maak vir kleingoed wat ouer as 4 jaar is om dit te snap. En met die mooiste sketse. ‘n Pragboek!

Drie en vyftig van die stories kom uit die Ou Testament, met Genesis 1 se skeppingsverhaal, die volmaakte plek van die tuin van Eden, die sondeval, Kain en Abel en die vloed wat dit afskop, en dan vertel van Abraham, Isak en Jakob wat die vaders van Israel is. Josef en Moses se verhale in Egipte skets die agtergrond vir die uittog uit Egipte en intog in die beloofde land. Dan is daar die verhale van die rigters, die vroeë profete en sieners en hoe hulle die eerste konings vir Israel aanwys en salf. Hierna kom Dawid en Salomo aan die beurt, en die verhale van Elia en Elisa, Ester en Job, asook Daniël wat die kind aan die ballingskap blootstel. En dit sluit af met Jona se aangrypende verhaal in die vis se maag. Op dié manier kry kinders ‘n idee van hoe die geskiedenis van God met Israel tot heil ontwikkel het.

Die Nuwe Testament word ook nie afgeskeep nie met 47 verhale. Dit begin by die voorbereiding van die toneel vir Jesus se geboorte, sy lewe, bediening en boodskap, gelykenisse en wonderwerke, verhouding met kinders en intog in Jerusalem, die Paasete en Getsemane, sy verraad en verhoor, die kruisiging en begrafnis, en die hoogtepunt: Jesus lewe! Die hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees word opgevolg met die werke en boodskap van Petrus, Stefanus, Paulus en Silas en loop dan uiteindelik uit in die visioen van die nuwe hemel in Openbaring.

Die boek is teologies baie goed begrond. Dis pragtig gedruk met volop illustrasies, in vol kleur. Dit is ‘n duursame produk wat geslagte se kinders sal kan grootmaak.

Indien jou gesin ‘n Kinderbybel skort, is dié produksie vir jou bedoel. Teen ‘n uitstekende prys is dit uitmuntende waarde vir geld.

Wat gee ‘n mens vir familie of vriende wat die aankoms van ‘n eerste pienk voetjie vier? Wat beter as ‘n Bybel waarmee die kinders in die weë van die Here groot gemaak kan word?


bottom of page