Padwysers vir 2019
top of page

Padwysers vir 2019


Mag ek ’n stuk deel wat ek in die dagblad Beeld op 29 Desember geskryf het:

Dis alweer tyd vir nuwejaarsbesluite. Goeie voornemens vir die nuwejaar is egter nie genoeg nie. Vaste wilsbesluite is nodig om 2019 reg binne te gaan. Ek praat van daardie soort wat diep in jou siel vasgeanker is. Ek het vir myself agt kompaswysers neergepen vir 2019:

  1. Ek weet die Here is my Herder. Hy is die Eregas en die Gasheer binne elke situasie, elke gesprek en elke verhouding waarbinne ek staan.

  2. Ek glo alle mense is kosbaar. Almal met wie ek te doene kry verdien respek en waardige behandeling.

  3. Ek doen goed aan ander sonder om iets terug te verwag. Ek betaal graag meer in binne elke verhouding waarin ek staan as wat ek ooit hieruit onttrek.

  4. Ek is ’n lewenslange student van God se Woord en van die lewe self. Ek leer ook gedurig by ander mense.

  5. Ek kies om die Here en ander groter te sien in my lewe, en om my eie probleme en laste gedurig kleiner te krimp.

  6. Ek kies om elke dag iets goed te doen vir mense in Jesus se Naam. My geloof is ’n werkwoord, nie ’n ruswoord nie.

  7. God se skepping is kosbaar. Ek doen my deel om dit mooi op te pas. Waar dit beskadig is, help ek graag om dit heel te maak.

  8. Ek leef met verwondering, vreugde en met kinderlike geloof. Ek laat elke dag toe dat die Here my karakter tot Sy eer vorm.


bottom of page