Liefde is nie ’n ruiltransaksie nie
top of page

Liefde is nie ’n ruiltransaksie nie


En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook.” Lukas 6:32:b

Soms is ek verras om te sien hoe mense – ja selfs nié-Christene – bereid is om hulself vir ander te gee … sonder om enigsins iets terug te verwag. Dis dan wanneer ek skaam-skaam dink dat ek tog darem so ietsie sou wou terughê wanneer ek liefde uitdeel. Dalk net so ’n kloppie op die skouer van God af. Die waarheid is dat as ons net iets gee omdat ons iets kan terugkry, ons onsself hoegenaamd nie van ander onderskei nie. Want ons Vader verwag juis van ons om die wêreld en sy mense op ’n onderskeidende manier lief te hê.

Die waarheid is dat ons Meester presies daardie soort liefde vir ons gewys het. Hy’t Homself gegee toe nie een van ons onsself kon red nie. Hy’t hulle vergewe wat Hom nooit sou vergewe nie. Hy’t ander met goedheid omarm sonder om ooit uitsoekerig te wees. Hy was gewillig om sy liefde te laat wérk daar waar sy Vader Hom gestuur het. Ongeag die ongemak daarvan en ten spyte daarvan dat Hy niks kon terugkry nie. Hy het, sonder huiwering, eenvoudig liefde gegéé.

Kom ons onderskei onsself as kinders van God deur sý soort liefde regtig onbaatsugtig uit te deel ... selfs, nee verál, aan hulle wat ons nooit daarvoor sou kon vergoed nie.

Jesus, leer my die ABC van onbaatsugtige liefde asseblief.


bottom of page