Jesus is aan huis, sy genade ook!
top of page

Jesus is aan huis, sy genade ook!


Jesus leer baie van sy grootste lesse oor God se koninkryk in mense se woonhuise. In Lukas 5 lees ons hoedat Hy in ’n tollenaar met die naam Levi se huis saam hom en met sy vriende eet. Hulle was onrein volgens die godsdienstige voorskrifte van die dag. Daar aan ’n etenstafel beleef hulle egter God se goedheid eerstehands. In Lukas 7 lees ons ook van ’n afgeskryfde vrou wat haar stukkende lewe kom uithuil op Jesus se voete tydens ’n ete. Sy het ongenooid by hierdie ete ingestorm en aan Jesus se voete tot stilstand gekom. Terwyl die godsdienstige gaste uiters geskok was oor Jesus se positiewe reaksie, skryf Jesus al haar sondes summier af en stuur haar in vrede weg. Ook vertel Lukas 10 hoe Jesus in die huis van Marta en Maria vir hulle leer dat om aan sy voete tot rus te kom lewe in oorvloed is. Aan huis tussen sondaars en kie bring Jesus graag tyd deur. Hier word gewone mense deur God raakgesien. Hier ontvang hulle hemelse genade. In Kersfeestyd 2018 vind jy Jesus steeds aan huis, besig om presies dieselfde te doen. Sy genade is ook in-huis beskikbaar.


bottom of page