Openbaring Hoofstuk 21 [video]
top of page

Openbaring Hoofstuk 21 [video]


DIE EWIGE NUWE BEGIN

21:1-8 skets God se visie vir sy nuwe wêreld. Sewe uitsprake van God Self in vers 5-8 onderstreep onder andere dat Hy en Hy alleen alles nuut maak. Ons huidige wêreld gaan nie vanself beter, veiliger, meer beskaafd of vreedsamer word nie. God se nuwe begin is so vas en seker dat Johannes dit moet opskryf asof dit reeds gebeur het. Die nuwe Jerusalem se koms is onafwendbaar (vgl. ook 3:12). Dit waaroor Jesaja (vgl. Jes. 59:20; 65:18) of Esegiël (vgl. Eseg. 40-48) gedroom het, word waar. God se splinternuwe nuwe hemel en aarde sal gebeur. Babilon wen dus nie vir altyd nie, maar eerder God se stad waar elke gelowige alles sal kry. Bedoelende, elkeen het daar vrye toegang tot sy teenwoordigheid tot in ewigheid. Die nuwe Jerusalem is God se nuwe aardse heiligdom (21:2-3). Niks wat onrein of vals is, word daarin toegelaat nie (21:27). Hierdie stad is immers die bruid van die Lam (21:2, 9). Ook is daar volop lewe, kos en veiligheid. Selfs die bome in hierdie ewige stad se blare bied ewige genesing vir alle inwoners (22:2). Al die slegte dinge van vroeër is dan oor en verby. Alle trane is permanent afgedroog (vgl. 7:17). Pyn, dood en lyding is dan ook iets van die verre verlede (20:14).

21:9-22:5 is ʼn voorprent of lokettreffer van die nuwe Jerusalem. Een van die engele wat vroeër die wraakbakke op die aarde uitgegiet het, neem Johannes op ʼn blitstoer deur God se ewige stad vanaf ʼn hoë berg as uitkykpunt. Hy sien dat die twaalf apostels en die twaalf stamme steeds hier prominent is omdat die twaalf stadspoorte en twaalf fondamente na hulle vernoem word (21:12-14). Die meetbaarheid van die stad in 21:15 (wat herinner aan hoofstuk 11:1-2 of Jeremia 31:38-40 en Esegiël 40-41) bevestig die vastigheid en onwankelbaarheid van God se nuwe stad. Dit is ʼn reusagtige plek in die vorm van ’n kubus. Hierdie mate moet egter nie letterlik opgeneem word nie, maar simbolies – veral in die lig van Johannes se klem op die getal 12, of die veelvoude daarvan. Dit onderstreep dat God se ganse nuwe volk daar ʼn permanente woonplek het. In 21:18-21 word die boumateriaal van die stad in terme van kosbare edelgesteentes beskryf. Die klem val egter nie net op die kosbaarheid hiervan nie, maar op die feit dat hierdie boumateriaal ondersteunend is tot die heerlikheid van die Koning van die heelal wat nou hier woon! Vers 22 beklemtoon die afwesigheid van ʼn amptelike kultus, en vers 23 die afwesigheid van hemelligte. Die rede hiervoor is voor die hand liggend. God Self en die Lam is hier! Universele aanbidding en absolute veiligheid, soos gesimboliseer deur die oop poorte, kenmerk die stad. Reinheid en heiligheid ook – net mense wie se name in die boek van die Lam is, kom hier in (21:24-27).

Oorvloedige lewe; meer as genoeg kos; permanente herstel en genesing – dit alles kenmerk die nuwe Jerusalem volgens Openbaring 22:1-3. Maar die belangrikste van alles, die onafgebroke teenwoordigheid van God en die Lam is waaroor dit hier gaan. God se ewige dienaars sal selfs sy gesig sien – wat vroeër op aarde nie moontlik was nie (Eks. 33:20; Joh. 1:18). Ook sal sy Naam op hul voorkoppe wees (vgl. 3:12). Daar sal hulle in ewige harmonie saam met God heers (21:4-5). Op hierdie wyse sluit die openbaring van Openbaring feestelik en oorwinnend af!

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page