Doen die (on)-moontlike: Bid vir jou vyande
top of page

Doen die (on)-moontlike: Bid vir jou vyande


“Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie ...”. Lukas 6:27

Soms klink Jesus se opdragte darem regtig na ‘n saak van onmoontlikheid. Soos die opdrag dat ons ons vyande moet liefhê! Dis erg genoeg om mense lief te hê van wie jy nié hou nie; om nog die mense wat jou vyande is, ook met liefde te omarm, is darem maar baie gevra.

Die feit is dat Jesus nie iets van ons vra wat Hy nie self ook gedoen het nie. Elke opdrag van Hom het Hy prakties uitgeleef en aan ons gedemonstreer hoe mens dit behoort te doen. So het Hy ook hierdie opdrag tot op die letter uitgevoer. Terwyl Hy in pyn aan die kruis hang, het Hy by sy Vader vir sy vyand gepleit: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” (Lukas 23:34b)

Miskien moet ons meer vir ons vyande, vir die mense wat ons benadeel en vir hulle teenoor wie ons wrokkig voel, bid. En as ons nie weet wat om te vra nie, kan ons bloot die Gees vra om namens ons te bid. Hy sal weet watter woorde Hy voor die Vader-troon moet neersit.

Kom ons doen wat die Woord ons vra: Kom ons bid vir ons vyande!

Gees van God, help my asseblief om vir hulle te bid vir wie ek juis nie kan bid nie.


bottom of page