A Book of Prayers [resensie]
top of page

A Book of Prayers [resensie]


Ek is deel van ‘n tradisie wat nie veel van vormgebede maak nie. In ons eredienste bid mense eerder in hulle eie woorde en klem word daarop geplaas dat elke individu op eie stoom aanbid en lofprys soos hulle wil.

Dit beteken nie dat so ‘n tradisie op ander neersien wat wel ‘n vaste liturgie het nie. Wat gebeur het, is dat die onderskeie tradisies verskillende historiese ontwikkelinge gehad het.

Wat ek wel van groot nut in my lewe gevind het, is om gebedeboeke in my persoonlike stiltetyd te gebruik. En daaruit het ook die gewoonte ontstaan om gebede wat vanaf die kansel kom, te verryk met die idees van ander.

In dié boekie het jy 150 gebede van iemand wat van skryf ‘n lewe maak. Maar dit is veel meer as literêre meesterstukke; die gebede is deurleefde teologie wat ek stimulerend vind om my eie gedagtes te laat loop. Martin Manser het wyd gedink en gebid, gelees en nagevors as deel van sy skryfwerk. En ‘n mens sien dit in die gebede wat diepgaande gedagtes bevat.

Jy kry hier geleentheidsgebede – gebede wat nuttig is tydens Kersfees, Paasfees, nagmaal en gradeplegtighede, ensomeer. Verder is die gebede ook ingedeel in temas: gebede in moeilike tye van beproewing, in tye van verandering, van krisis en in goeie tye. Jy kry gebede vir ander mense, vir die elke-dagse lewe, regdeur die jaar asook gebede wat spesifiek op die verhouding tussen die bidder en God konsentreer.

Die boekie se bladsye (waarvan daar meer as 230 is) is met goud omboor en dit word met ‘n voorblad van kunsleer uitgegee, wat dit ‘n duursame voorkoms gee en ‘n ideale geskenk maak. ‘n Gawe manier om iemand se stiltetyd te verryk!


bottom of page