Baie lank voor Jesus se geboorte het Jesaja al in Jes 40:3 geprofeteer van Johannes die Doper se lewe. Hy het geprofeteer dat Johannes die weg vir die koms van Jesus sou voorberei. En hoe doen Johannes dit? Hy preek en sê vir die mense dat hulle hul moet bekeer en dan doop hy hulle. Dit is amper asof ’n mens wil sê hoe berei jy die weg vir die Here voor deur mense te doop?
Dan lees ons in Joh 1:31 wat Johannes die Doper self gesê het nl. “En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.” Die NKJ vertaling sê “... that He should be revealed to Israel, therefore I came baptizing with water.”
Wat hier gebeur is die begin van ‘n radikale verandering in die geloofslewe van God se volk. God het geweet dat die volk nie sommer ’n man wat tussen hulle as mens rondloop sou aanvaar as die Seun van God nie. Daarom het Hy lank tevore deur Sy profete laat opteken dat die Messias gebore sou word en daar is geprofeteer oor baie aspekte van Sy lewe asook Sy sterwe. Dit alles sodat as die Messias sou kom, Sy volk Hom sou herken vir wie Hy is.
Maar dit lyk my die feit dat niemand geweet het presies wanneer dit sou gebeur nie het genoodsaak dat daar nog iets nodig was om op die spesifieke tyd die mense se oë oop te maak sodat hulle vir Jesus sou herken as die Een oor wie daar geprofeteer is. Daarom moes Johannes die Doper kom. Hy het gepreek en gesê dat die Koninkryk van God het naby gekom, waarskynlik bedoelende iets soos: “Let op die Messias is nou hier.”
“... I came baptizing ... that He should be revealed to Israel ...” laat blyk dat die doop nodig was om die mense se geestelike oë oop te maak sodat hulle Jesus inderdaad kon herken as die Een oor wie daar geprofeteer is.
Die doop van Johannes die Doper was die begin van die bediening van die doop. Daarna lees ons in Joh 4:1&2 (“Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes— alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels—“) van mense wat gedoop is terwyl Jesus op aarde was en ons weet dat die bediening van die doop na Jesus se hemelvaart voortgegaan het tot vandag toe.
Maar volgens Mat 3:7&8 blyk dit dat Johannes die Doper die Fariseërs en die Sadduseërs nie wou doop nie en hulle aangesê het om hulle eers te bekeer. (“Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas.”) Dit was egter juis hulle wat Jesus laat kruisig het. Kan dit wees dat hulle Hom nie herken het vir wie Hy werklik was nie, omdat hulle hul nie bekeer en laat doop het nie? Dat hulle geestelike oë nie oop was om Hom te herken vir wie Hy werklik was nie? Maar Petrus het geweet wie Jesus werklik is toe hy in Mat 16:16 gesê het "U is die Christus, die Seun van die lewende God."
Laat ons seker maak ons ken die Seun van wie Johannes die Doper in Joh 3:36 praat as hy sê “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” en wat in Joh 14:6 van Homself praat as Hy sê “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Voeg Kommentaar By
Opgelaai deur Paul Hugo
Opgelaai deur Paul Hugo
Kliek hier om 'n welkom video vanaf Stephan Joubert te kyk, of kliek op enige van die sosiale netwerke hieronder om met ekerk op ander platforms te skakel!
Ekerk het ook 'n Engelse webblad... Echurch.co.za.
Vertel gerus vir Engelssprekende vriende en familie!
Ekerk posted a blog post© 2012 Created by Ekerk.

Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk